Pirates-bofbalklub se afgebreekte grensmure veroorsaak dat al meer gemors op die veld gegooi word. Foto’s:ANTON SCHWARTZ


Die Pirates-bofbalklub op Kariega, een van die oudste bofbalklubs in Suid-Afrika, was eens ’n spogveld waar internasionale kragmetings gehou is. Maar skrootyster- en boumateriaaldiewe is besig om ook dié sportveld te vernietig.

Verskeie sportfasiliteite op Kariega word stuk-stuk deur dié diewe afgebreek. Die UD Express het onlangs berig hoe die Drostdy-tennisklub byna daagliks én helder-oor-dag sonder keer deurloop. Uitenhage-rugbyklub se fasiliteite is totaal vernietig en nou loop Pirates-bofbalklub dieselfde pad.

Skuttie Bezuidenhout, president van die Pirates-bofbalklub sê, “Ons het die beste veld in die OP gehad. Nou kan ons nie meer hier speel nie en moet Baai toe gaan. Met wat hier gebeur is dit so goed of bofbal kan totsiens sê vir Uitenhage (Kariega).”

Bezuidenhout sê sowat 200 meter se draad om die veld is gesteel en omdat die sementmuur (vibra crete) stuk-stuk afgebreek word gooi na-bygeleë groente- en vrugteverkopers hul gemors op die veld. Selfs ’n swaarvoertuig gebruik van-uit Sellickstraat die veld as parkering.

Die afgebreekte grensmuur aan Sellickstraat en ’n vragmotor wat op die sportveld parkeer.

“Al wat ons vra is dat die munisipaliteit die muur moet herstel sodat enigeen nie toegang tot die veld kry nie.

“Ons het baie jong en talentvolle spelers hier op die dorp. Sowat 90% van die jonges in OP-bofbal kom van hier af. ’n Mens sou wou sien dat ons hulle die platform kan bly bied,” sê Bezui-denhout.

Pirates is in 1934 gestig en deur die jare is verskeie provinsiale, nasionale en selfs internasionale wedstryde op die veld in Kariega ge-speel.

Huishoudelike vullis lê oral op Pirates se sportveld. Swartsakke word oor die muur gegooi en oopgeskeur.

Anton Schwartz, kaptein van die Pirates-bofbalspan sê hy is moedeloos, “Die sekuriteit hier het geen beheer oor die veld nie. Die ouens wat ons goed steel kom en gaan soos hulle wil en die sportveld word onder ons neuse verniel,” sê Schwartz.

“Ons kan nie toelaat dat die gebrek aan seku-riteit en samewerking met omliggende besighede bofbal op die dorp tot niet laat gaan nie,” sê Schwartz.

  • Raadslid Helga van Staden, lid van die burgemeester se bestuurskomitee vir sport, rekreasie, kuns en kultuur, het aan die UD Express gesê sy wag vir ’n verslag oor die situasie by Pirates se bofbalveld.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article