Duisende mans in slegs pers Speedo’s en tekkies gaan môre, 15 Oktober dwarsoor die land deelneem aan die jaarlikse 5km Hollard Daredevil Run ter bewusmaking van prostaat en testikulêre kanker.
Dit is vanjaar die eerste keer sedert dié pers Speedo-uitdaging begin het, dat atlete op hul eie, in klein groepe en enige plek hul eie 5km roete kan hardloop. Despatchers het die geleentheid aangegryp en 12 atlete van Despatch-atletiekklub gaan aan die uitdaging deelneem en deur die dorp se hoofstraat en Despatch Superspar se parkeerarea hardloop.
“Die nuutste projeksies het getoon dat prostaatkanker teen 2030 die mees algemene kanker in Suid-Afrika sal wees. Daarom is die Prostaatkanker-stigting sedert 2018 een van die Hollard Daredevil Run se begunstigdes en geld word aangewend om bewusmaking van dié man-spesifieke kankers aan te wakker.
“Vroeë diagnose van prostaatkanker verbeter die kanse op suksesvolle behandeling,” sê Andrew Oberholzer, hoof uitvoerende beampte van die Prostaatkanker-stigting van Suid-Afrika.
Helgard Potgieter, voorsitter van die Despatch-atletiekklub sê meeste mans ken iemand wat deur prostaat-of testikulêrekanker geaffekteer is.
“Die COVID-19-pandemie het een goeie ding tot gevolg gehad en dit is dat baie wedlope of uitdagings soos die Daredevil Run nou virtueel aangebied word.
“Dit maak dit vir ons moontlik om ook deel te neem sonder om honderde kilometers ver te ry,” sê Potgieter.
“Ons Despatchers is mos altyd game vir enigiets en het die kans aangegryp. Twaalf ouens gaan hardloop, nege hier op die dorp en die ander drie is op pad Kaap toe, maar hulle sal iewers by Wildernis hul pers Speedo’s en tekkies aantrek en hardloop.
“Die senuwees knaag maar en ek het vir die manne gesê moenie die Speedo nou aantrek nie dan raak jy net nog meer op jou senuwees, trek dit eers Vrydag aan.
“Gelukkig is die rede hoekom ons dit doen veel groter (as die klein Speedos) en ons hardloop vir daardie manne wat ons ken wat testikulêre of prostaatkanker het,” sê Potgieter.
Cara Noble van die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa), wat ook ‘n begunstigde van die Hollard Daredevil Run is, sê mans is gewoonlik huiwerig om oor gesondheidsprobleme te praat en om vir professionele raad te gaan aanklop.
“Bewusmaking om gesonder leefstylkeuses uit te oefen en die bemagtiging om beheer te neem oor jou eie gesonheid, help dat kanker vroeg opgespoor en behandel kan word,” sê Noble.
Klippendales se roete
Die Despatch-manne noem hul span die Klippendales, ‘n samestelling van Klipspatchers en Chippendales.
Hulle spring môre (Vrydag, 15 Oktober) om 12:30 weg by die Despatch-rugbyklub aan die Frans Claassenstraat-kant weg. Hul roete is deur Bothastraat, Hoofstraat tot by Snymanstraat waar hulle links draai en dan weer links in Hollandstraat tot by Despatch Superspar se parkeerarea en dan weer terug na waar hulle begin het.





