’n Kleuterskoolhoof van Despatch se aftrede beteken nie die klap van breipenne, hekel of stoepsit nie. Aikóna . . . haar tasse is gepak om op ’n piepklein eiland in die suidelike Atlantiese Oseaan in ’n lang-as Land Rover as nooddiens-gesondheidswerker te gaan diens doen.
Danieta Ferreira, hoof van Kleuterland Bewaarskool glimlag breed oor dié groot stap wat op haar wag.
“My grootste bonus is dat my kinders trots is op my en my sien as ’n go-getter om op 64 ’n nuwe beroep op ’n eiland te gaan aanpak. Maar, dit is baie hartseer om na 21 jaar vir Despatch bye te sê. Hier is soveel mooi herinneringe, ek huil permanent,” sê Danieta.
Haar seun, Jaco Ferreira, werk die afgelope vier jaar op die Verenigde Koninkryk se Ascension Island (Hemelvaart-eiland) en dit is danksy hom dat haar “aftrede” ‘n heel ander pad vat.
“Ek is ‘n gekwalifiseerde stafverpleegster en in die Skype-onderhoud met my nuwe werkgewer moes ek hoor ek is oorgekwalifiseerd vir die werk! Maar my mond is mos groot, toe sê ek ek gee nie om nie. Ek sien dit as ‘n uitdaging en ek floreer op uitdagings.
“Hulle het my ook gevra wat doen ek om van spanning ontslae te raak, want as jy op die eiland is, is jy basies gestrand. Dit is net 91km² groot, die langste teerpad is 16km en daar is net drie dorpe, Georgetown die hoofdorp, Two Boats en Travellers Hill. So, jou liggaam en gees moet gesond en sterk wees om daar te oorleef.
“Wel, my antwoord was … stap,” sê Danieta, ‘n ywerige stapper en voormalige voorsitter van die Voetsac avontuur- en voetslaanklub in Nelson Mandelabaai.
“Jaco het gesê omdat die eiland basies uit vulkaniese as bestaan, vreet dit skoensole. So, ek het ál my ou stapskoene ingepak en vir my ‘n paar ordentlike Jim Greens gekry. Ek moes ook vir my ‘n glimbaadjie kry, want as jy na sononder op die eiland stap, moet jy duidelik sigbaar wees.”
Haaie, skilpaaie, krappe en NASA
Ascension-eiland is basies in die middel van die Atlantiese Oseaan tussen Afrika en Brasilië en sowat sewe grade suid van die ewenaar. Die aanloopbaan op die eiland was op ‘n stadium die langste in die wêreld om voorsiening te maak vir die landing van ‘n Amerikaanse pendeltuig, sou dit nodig wees.
Cat Hill is die basis van die Amerikaanse vloot terwyl Travellers Hill die basis van die Royal Air Force van die Verenigde Koninkryk is. Ander prominente instansies op die eiland sluit in NASA en BBC.
Volgens Danieta is daar slegs sowat 760 inwoners op die eiland en as sy daar is, sal daar drie inwoners van Despatch en een van Gqeberha (PE) afkomstig wees.
“Ek het vir my ‘n nuwe eiland-kostuum gekoop. Maar my seun sê ek kan vergeet daarvan om nou te gaan swem, want daar is nou so baie Galapagos-haaie dit lyk kompleet soos ons sardientjie-run, want die haaie swem naby om die eiland in hulle broeityd.”
Dit is ook nou die broeityd van die Groenrug-seeskilpad, wat sowat 2000km ver vanaf Brasilië swem om hul eiers op die strande van Ascension-eiland te lê. ‘n Sekere tyd van die jaar trek wyfie-landkrappe vanaf die hoogste berg, Green Mountain, na die strande om hul eiers te daar te lê. Dan moet alle vensters en deure toe gehou word en geen voertuig mag oor dié wyfiekrappe ry nie.
Danieta en Jaco vertrek Saterdag na Ghana en dan na Sint Helena-eiland waar hulle in ‘n ou konsentrasiekamp vir ‘n tydperk moet isoleer voordat hulle na Ascension-eiland vertrek waar Danieta ‘n verdere agt dae moet isoleer. Daarna sal sy haar uniform en die sleutels van die langas Land Rover kry om vir die volgende twee jaar op dié eiland te werk en haar verder te kwalifiseer in die mediese veld.
“Op die eiland is winkel-voorraad nie soos hier nie, ‘n boot kom elke tweede maand met kos en ander voorraad. So, jy moet vooruit beplan en sorg dat jy ten minste twee maande se voorraad het.”
Het dit haar nie twee keer laat dink nie? Danieta lag.
“Ek leef voluit. ’n Mens maak jou eie maak in die lewe en leef jou lewe wat jy in jou hart voel is reg. En ek is reg vir hierdie nuwe eiland-belewenis.”





