KYK | Klippendales verf Despatch se strate pers met hul Speedo’s

Foto: Mariska Spoormaker


‘n Paar Despatchers het dié dorp gister pers geverf met hul knap pers Speedo’s toe hul die strate van dié Oos-Kaapse dorp kafgedraf het.

Duisende mans in slegs hul pers Speedo’s en tekkies het op 15 Oktober dwarsoor die land deelgeneem aan die jaarlikse 5km Hollard Daredevil Run ter bewusmaking van prostaat- en testikulêre kanker.

Dit was vanjaar die eerste keer sedert dié pers Speedo-uitdaging begin het, dat atlete op hul eie, in klein groepe en enige plek hul eie 5km-roete kon hardloop.

Despatchers het dié geleentheid aangegryp en 12 atlete van die Despatch-atletiekklub het aan die uitdaging deelgeneem. 

LEES OOK | Klippendales hol in Daredevil-pers Speedo’s

Die Despatch-manne noem hul span die Klippendales, ‘n samestelling van Klipspatchers en Chippendales.

Hulle het deur die dorp se hoofstraat en Despatch SUPERSPAR se parkeerarea gehardloop.

“Die nuutste projeksies het getoon dat prostaatkanker teen 2030 die mees algemene kanker in Suid-Afrika sal wees. Daarom is die Prostaatkanker-stigting sedert 2018 een van die Hollard Daredevil Run se begunstigdes en geld word aangewend om bewusmaking van dié man-spesifieke kankers aan te wakker.

“Vroeë diagnose van prostaatkanker verbeter die kanse op suksesvolle behandeling,” sê Andrew Oberholzer, hoof uitvoerende beampte van die Prostaatkanker-stigting van Suid-Afrika.

Paul Barnes van Despatch SUPERSPAR het ‘n tjek van R5 000 aan die Klippendales oorhandig, ten bate van die Hollard Daredevil Run.

Video: Mariska Spoormaker

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article