Soos botter en brood, vuur en vonkel, Coke en ys … só gepas is die Karla & Kobus pa-en-dogter musiekduo van Despatch.
“Karla het saam met my begin optree toe sy nog so klein was dat ek haar in my arms moes vashou sodat sy by die mikrofoon kon uitkom. Sy is nou veel ouer en die afgelope vyf jaar is ons beste jare saam op die verhoog,” sê Kobus Gouws, musikant en entrepreneur van Despatch.
Vir Karla is haar pa ’n leermeester, sake-vennoot en haar beste pel. “Ek en my pa het ’n baie sterk band omdat ons ’n passie vir musiek deel. Dit was nog altyd my droom om ’n onderwyseres en sanger te wees en nou leef ek my droom,” sê Karla Gouws ‘n onderwyseres by Laerskool Sonop op Despatch.
Karla & Kobus het onlangs in die voorprogramme van Demi-Lee en Ray Dylan opgetree. Hulle gaan op 30 Oktober by ‘n musiekfees in Benoni optree en op 31 Oktober die voorprogram vir Joe Black op Dozi se plaas doen.
Karla het van nege-jarige ouderdom aan sangkompetisies deelgeneem en verskeie daarvan gewen. In die mees onlangse Begin Sing-kompetisie wat landwyd aangebied is, was sy die naaswenner.
As prys is sy die geleentheid gebied om ‘n musiekvideo ter waarde van R35 000 te laat opneem. Die Begin Sing-kompetisie is volgende maand op KykNet te sien.
Karla is ook ‘n finalis in die Bakgat Country Star Search kompetisie en sy moet einde November in Kraaifontein in die finale optree waar die wenprys R10 000 kontant en ’n Shure SM58 mikrofoon is. Laasgenoemde is Karla se droom-mikrofoon.
Kobus kom uit ’n familie van musikante en kan 16 instrumente op gehoor in verskillende genres speel.
“My eerste instrument wat ek geleer speel het was ‘n konsertina. Ek was agt jaar oud en het na plate van Japie Laubscher, Nico van Rensburg en Fanie Bosch geluister en myself só geleer speel.
“Op tien het ek my eerste konsertina-konsert gehou en daarna ‘n tienerband, Die Sonskyn-orkes, begin.
“Boeremusiek, Country en Blues is my gunsteling genres. Van die akkoorde wat in Boeremusiek gebruik word, word ook in Blues en Jazz gebruik.”
Buiten musiek, deel Kobus en Karla ook hul passie vir Eight Ball Pool, ‘n sport waarin hulle beide OP kampioene is.
Hul hou ook van skaak waarin Karla ‘n OP-kampioen is en speel graag tafeltennis, waarin hulle nog nie kampioenstatus geniet nie.
Kobus bied Zoom-lesse in konsertina en kitaar aan en het selfs studente uit die buiteland wat by hom leer.
- Karla & Kobus kan by 081 574 0876 gekontak word vir optredes of per e-pos by karlagouws17@gmail.com.
Gaan kyk gerus ook op hul Facebook Fanpage, Karla en Kobus sowel as Karla Musiek SA.





