Sitrussappies gaan vir ‘n wyle eenkant geskuif word in ruil vir uitsoekwyne met die ATKV Sondagsriviervallei se Wyn in die Tuin wat op Saterdag, 6 November by Cleveland B&B op Kirkwood gehou gaan word.

“Ons het ‘n feestelikheid hier in die Vallei nodig met die Wildsfees wat weens die pandemie nie vanjaar gehou kon word nie. So, ons sien baie uit na hierdie saamkuier in die pragtige tuin van Erina Stiemie,” sê Willie Rossouw, voorsitter van die ATKV-tak Sondagsriviervallei.

Buiten uitsoek wyne, sal daar ook ‘n Gin-bar, fynproewer-kosse en allerlei tuisgebak wees sowel as verskeie uitstallers met kwaliteit produkte.

Vroegdag word ‘n pretloop deur die le-moenboorde gehou en vir die jongspan sal daar verskeie opwindende speletjies in die Cleveland-tuin wees. Die musiekgroep Letters of Jane sal deur die dag hul klanke laat opklink en om 19:00 word die buitelugkonsert met Jak de Priester in piekniekstyl aangebied. Kaartjies vir Jak de Priester se vertoning is R100 per volwassene en R50 per kind en is ten bate van die Vallei Diere Vriende.

Veilige parkering is in die aangrensende boord beskikbaar en besoekers sal met ‘n trekker en sleepwa van daar na die Cleveland-tuin geneem word. Die Wyn in die Tuin word van 09:00 tot 17:00 gehou.

  • Toegang na die Wyn in die Tuin is R20 vir volwassenes en R10 per kind. Vir meer inligting oor Wyn in die Tuin bel Erina Stiemie by 072 474 4330 en vir Jak de Priester se buitelugkonsert-kaartjies bel Willie Rossouw by 083 309 7324.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article