Eeers die kerk en toe die dorp. Dit is hoe NGK Bothasrus, wat se 80ste bestaanjaar eerskomende Sondag, 21 November gevier word, se geskiedenis begin het.
Die gemeente is op 21 November 1941 gestig en vyf jaar later, in 1946, het Despatch dorpstatus gekry.
Om dié oudste gemeente op Despatch se ryk geskiedenis behoorlik te vier, neem al ses die NG- gemeentes van die dorp deel aan die verrigtinge.
Sondag om 08:55 gaan die ses NG-gemeentes, almal vanaf hul eie kerkgronde, balonne die lug instuur met boodskappe van dankbaarheid, genade en hoop.
Om 09:00 word die NGK Bothasrus se spesiale erediens gehou waarna elke kerkganger ‘n boekmerk sal ontvang. Om 10:00 word ‘n R5 muntlegging in die vorm van “80” en “Bothasrus” in die parkeerterrein gehou waarna koek en tee in die kerksaal en buite op die grasperk bedien sal word.
Eers die kerk en toe die dorp
In die vroeë 1900s het die eienaar van die plaas waarop Despatch vandag is, goedkoop erwe beskikbaar gestel wat opgeraap is deur voornemende huiseienaars en so het dié gemeenskap vinnig begin groei.
NG-kerklidmate moes Sondae na die NG Moedergemeente op Uitenhage reis om dienste by te woon. Hiervoor was daar spesiaal ‘n “kerktrein” wat kerkgangers soggens om agtuur na Uitenhage geneem het en dan weer om een- uur terug na Despatch geneem het.
Saans moes kerkgangers die halfsewe-trein haal na Uitenhage en het met die nege-uur-trein terug gery na Despatch.
Dit was glo nogal ‘n gesig om te sien hoe die prosessie, mans ge-stewel en gespoor, vrouens in hul Sondag beste en hoed op die kop, vanaf Uitenhage-stasie met Caledonstraat langs voetslaan na die Moedergemeente se kerk.
In 1938 is besluit om ‘n kerksaal vir die gemeenskap te bou. Despatch was toe nog nie ‘n dorp nie, diè status het eers in 1946 gekom. Die bou van die kerksaal het sowat R1 000 gekos en op 3 Desember 1938 is dit ingewy. Dit is vandag, 84 jaar later, steeds in gebruik.
Interessante feite:
- Op 21 November 1941 besluit die NGK Ring van Uitenhage om die gemeente op Despatch af te stig onder die naam Bothasrus. Dit word vernoem na P.B. Botha, wat die 1.5 hektaar in 1932 aan die kerkraad van Uitenhage Moe-dergemeente geskenk het as kerkgrond.
- NGK Bothasrus begin met ‘n lidmaattal van 480. Die eerste kerkraad bestaan uit vier ouderlinge en ses diakens. Daar is tans 850 lidmate, 14 ouderlinge en 15 diakens met geen predikant nie.
- Die huidige kerksaal was die aanvanklike kerkgebou van 1941. Weens die toenemende getal lidmate, het die perseel te klein geword en in 1946 is ‘n boufonds vir ‘n nuwe, groter kerk begin. Die susters van die gemeente het fondsinsamelings gehou vir die orrel en die jongmense het fonds-insamelings gehou vir die toring, klok en horlosie.
- Bothasrus se preekstoel is van marmer. Beswaardes het kapsie gemaak en aangevoer marmer is goed vir grafstene, maar nie vir ‘n preekstoel nie. Ook dat marmer te koud en onpersoonlik is. Dit het lank geneem voor die stof oor dié preekstoel, wat vandag nog gebruik word, gaan lê het.
- Hendrik Vermooten was die argitek van die nuwe kerk. Die sooispitseremonie was op 7 September 1946 met die hoeksteenlegging op 30 November 1946. Die kerkgebou is op 6 September 1947 ingewy.
- Terwyl die kerkgebou nog in aanbou was, is die eerste bruidspaar, mnr en mev. W. Pitout op 29 November 1946 in die onvoltooide kerk in die eg bevestig
- Bo-op die toring was ‘n allemintige swaar, koper weerhaan. Maar die argitek, Hendrik Vermooten, het hom met Despatch se winde misreken. Drie keer het die wind die boonste toringstene losgewikkel en het die haan so byna-byna na benede gestort. Toe die kerkraad nie meer versekering vir die “haan” kon bekom nie, is besluit om die haan terug aarde toe te bring. Die haan is nou in private besit.
- Die eerste leraar was ds. L.M. Cilliers In die kerk se 80 jaar van bestaan het 16 predikante diens gedoen.




