Die Uitenhage Rotariërklub is op 8 September 1947 gestig en het 74 jaar later, op dieselfde datum, hul bestaansjaar in ware sosiale diensklub-styl gevier met die oorhandiging van donasies aan verskeie nie-winsgewende instansies op Kariega en Despatch.
Die Rotariërklub het aan ACVV Aandmymering tehuis vir bejaardes sowel as Huis Najaar elk ’n donasie van skoonmaakmiddels, saniteerders en ander noodsaaklike items ter waarde van R10 500 geskenk.
Aan die Uitenhage & Distrik DBV het die klub agt sakke 40kg hondekos en 20kg katkos ge-skenk.
By Laerskool Winterberg het die klub ’n klaskamer se vloer in samewerking met Buco reggemaak. Die Rotariërs het R2 500 se vloerplanke gekoop en vir die arbeid betaal, terwyl Buco die res van die vloerplanke geskenk het.
Tydens die streng COVID-19 inperkings in 2020 het dié Rotariërklub maatskaplike verligting in die vorm van kospakkies gebring. Hulle het drie afsonderlike projekte aangepak in samewerking met die plaaslike Lions Club, Laerskool Frans Conradie en Despatch SuperSpar. ‘n Totaal van R22 000 is bestee aan kospakkies vir mense in die Kariega en Despatch omgewings.
Geen 2021 Straatkarnaval
’n Jaarlikse hoogtepunt van die Uitenhage Rotariërklub is die Straatkarnaval wat vir dekades deur dié klub georganiseer word.
“Dit is vir ons hartseer dat die Straatkarnaval weens COVID-19 inperkings weereens nie gaan plaasvind nie. Aangesien daar geen toegangsfooi gevra word nie, is dit onmoontlik om die hoeveelheid besoekers te beheer en om aan COVID-19 regulasies te voldoen.
“Ons is hoopvol dat die Straatkarnaval in 2022 gehou sal word in beste belang van ons gemeenskap, stalletjiehouers en kunstenaars,” sê Smit.




