Dominee Christo Stümke met hul honde genaamd Fudge en Munchie. Foto:HEILIE COMBRINCK


“WEES nou, meer as ooit tevore, daar vir mekaar. Haal die spreekwoordelike gesigsmaskers af en leef die verskil wat jy wil hê moet gebeur.”

Dié boodskap is wat ds. Christo Stümke (65) van Kariega se NG kerk De Mist op die vooraand van sy aftrede – en in ‘n tyd wat mondmaskers mense se emosies verbloem – die wêreld wil instuur.

“As ‘n mens wat lief is vir my medemens, het die onmenslikheid van die pandemie, die harde isolasie, die emosieloosheid van maskers, en om boonop met kanker gediagnoseer te word, my platgeslaan.”

Op 14 Februarie sal Stümke weet of sy kanker in remissie is. Intussen sien hy daarna uit om einde Februarie, na 38 jaar van diens ‘n nuwe vlak van diens aan die gemeenskap te lewer.

“Ek het my loopbaan by die De Mist-gemeente begin en sluit dit hier af. ’n Skriba het eendag vir my gesê De Mist is die Universiteit van die lewe. En dit is so.

“Hier het ek my grootste lewensles geleer: om onvoorwaardelik, desondanks foute en struwelinge, daar te wees vir mense. Om mekaar te ondersteun, te vergewe en aan te gaan met die lewe.

“Ek wil net wees wat Christus was, om saam met mense op die markplein te wees. Ek is nie ‘n studeerkamer-predikant nie. Ek hou daarvan om tussen my mense te wees; dit is waar ek ‘n verskil kan help maak.”

Dit is dié absolute medemensgedrewendheid, toegewydheid en leiersrol wat Stümke in die breër gemeenskap vervul wat hom bekroon het met die hoogste humanitêre toekennings van die plaaslike Rotariër en Lions diensklubs. Die Rotariërs het hom vereer met die Paul Harris Fellowship en die Lions met die gesogte De Mist-toekenning.

Die Stümkes se huis laat ‘n mens met verwondering staar na al die kosbare kunswerke wat deur die jare versamel is. Trouens, waar hy tydens die onderhoud in die leer-leunstoel sit, stylvol uitgerus met die twee gesinshondjies langs hom, lyk na ‘n ideale komposisie vir ‘n skilderwerk.

Stümke en sy vrou Carien is ook bekend vir hulle watertand klapperys, fudge en munchies.

“Ons het aanvanklik begin om dit te maak toe ons kinders, Ferreira en Margaux in die OP Kinderkoor was en ons geld moes insamel vir hulle Europese-toer.”

Die kinders is Europa toe en terug, uit die huis en beide lank reeds in professionele beroepe, maar die Stümkes hou aan om dié lekkergoed te maak, want dit is wenresepte. Soveel so, dat die twee vierpoot nuwelinge in die huis, Fudge en Munchie gedoop is. Dié lekkernye is ook te koop by Carien se koffiewinkel, Feraux, in Kanonstraat.

Fudge en Munchie was ook die tema van een van Stümke se preke.

“Wanneer ek vir Fudge en Munchie sê ‘kerk-kerk’, hardloop hulle kerk toe, maak nie saak waarmee hulle besig is nie. Toe preek ek een Sondag en ek sê ek wens party lidmate wil soos my honde wees … wanneer die kerkklok lui, moet hulle kerk toe hardloop. Die klok lui nie verniet nie, dit lui vir ‘n rede,” sê hy laggend.

Nog ‘n nuwe fase wat op die Stümkes wag, is om grootouers te word wanneer Margaux se eersteling in Junie gebore word.

Vanaf Maart gaan dominee Stümke nou wel nie meer elke Sondag agter die preekstoel staan nie, maar hy is steeds beskikbaar vir troues, begrafnisse en om uit te help met dienste.

“Maar ek weet daar gaan ook ‘n dag aanbreek wat ek dit ook vaarwel gaan toeroep.” Hy lag en sê, “Ek wil nie aanhou en aanhou en naderhand verkeerde Bybelverse aan haal nie. Nee wat, daar is ‘n tyd om te kom en ‘n tyd om te gaan.”

Waarna hy wel baie uitsien na sy aftrede, is om by meer gemeenskapsprojekte betrokke te raak soos Hospice en Kansa. Want soos hy sê, “Ons het mekaar nou nodiger as ooit tevore.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article