Die dag toe die visvang-gogga vir Monique Jonck byt, was dit al die pad stywe lyne totdat sy nou al vir die negende keer vir die Oostelike Provinsie se kushengelspan gekies is.
“Ek wou meer tyd saam met my pa (Burger Jonck) deurbring en het daarom toe ek 14 jaar oud was saam met hom begin visvang. Hy is sonder twyfel my grootste inspirasie as dit by dié sportsoort kom,” sê Monique.
Sy sê sy hou daarvan om by die Sondagsrivier te gaan visvang en alle vis wat gevang word, word weer veilig vrygelaat.
Monique is ‘n onderwyser by Hoërskool Despatch waar sy Lewens-oriëntering en Ekonomiese en Bestuurswetenskappe aanbied. Buiten dat sy reeds nege keer die OP in kushengel verteenwoordig het, het sy ook haar President-klere in dié sport gekry, “wat eintlik maar soos die SA dames kushengel se B-span is.”
Monique en die res van die OP-kushengelspan gaan vanaf 14 tot 18 Februarie aan die Suid-Afrikaanse kushengel nasionale-kompetisie in KwaZulu-Natal by Mtunzini deelneem.




