Anton van der Merwe.

Foto:VERSKAF

Van Kariega tot komponis en kunstenaar vir die Britse koningin.

Dié hoë eer het Anton van der Merwe, boorling van Kariega (Uitenhage) en deesdae tenoor, komponis en musiekvervaardiger in Londen, te beurt geval.

Anton is naamlik een van twee komponiste wat gevra is om elk hul eie deel van “EIIR: The Platinum Record, A Jubilee Anthem” te komponeer as deel van die groter ereblyk aan koningin Elizabeth II se 70 jaar regeerperiode.

Dit is byna ondenkbaar dat ‘n iemand wat op Kariega (Uitenhage) grootgeword en in openbare skole, naamlik Laerskool Handhaaf en toe Hoërskool Brandwag onderrig ontvang het, só kon uitstyg in Brittanje se musiekwêreld.

Om meer oor Anton uit te vind, het die UD Express die geleentheid aangegryp om met hom te gesels toe hy uit Brittanje by sy ma Suzette in Nelson Mandelabaai kom kuier het.

Die lagkreukels om sy oë het opgeval toe hy groet – en hy praat Afrikaans asof hy ‘n onderwyser by ‘n Afrikaanse skool is.

En ja, dít was hy wel as musiek-, kultuur en musiekonderwyser vir so twee jaar aan die Hoër Tegniese Skool Daniel Pienaar op Kariega voor hy die musiekwêreld letterlik ingevaar het, as sanger en vermaaklikheid kunstenaar op die gesogte Carnival UK-skepe wat regoor die wêreld gereis het.

“Dit het my ongelooflike ondervinding in die musiekstyle van regoor die wêreld gegee,” vertel Anton.

“Ek het eerstehands ondervind hoe die mense van Indië, Australië, Karibiese-eilande hulle musiek maak en hoe hulle hul kultuur uitleef.

“So, dit het my baie gehelp met die skryf van ons deel van die musikale huldeblyk aan die Koningin.”

Gepraat van die Platinum Jubileum lied aan Koningin Elizabeth II vir haar 70 jaar diensperiode: Anton se segment in dié groter geheel is ‘n indrukwekkende kruis-klassieke komposisie wat die tipiese musiek van verskeie lande, onder meer Afrika, Indië en Australië, omhels. Dit is getiteld We Thank You From Our Hearts. Die lirieke vir die komposisie het hy in samewerking met Thomas Mace-Archer-Mills geskryf. Die verwerking en vervaardiging van die lied het hy in samewerking met Ettiene Lane van Song Evolution Studio.

“Die woorde wat ons in die lirieke gebruik het, is die eed wat sy destyds in Kaapstad gemaak het toe sy 21 jaar oud was en gesê het sy sal haar lewe gee, maak nie saak hoe lank dit is nie, om die wêreld te dien,” verduidelik Anton wat deesdae in Brittanje woon.

Van skeepskunstenaar na komponis

In 2013 het hy die passasierskepe verlaat om die fokus skerper te trek op sy loopbaan as komponis, musiekvervaardiger en tenoor. Hy het by onder meer André Howard van Stellenbosch Universiteit en Danielle Guerra van die Royal College of Music in Londen opleiding ondergaan.

In hierdie periode het Anton ‘n kontrak onderteken met ‘n kunstenaarsontwikkelingsmaatskappy in Londen wat hom gehelp het om sy eerste musiek te skryf.

“Toe word ek raakgesien en genooi om aan die oudisies vir Brittain’s Got Talent deel te neem, maar het ongelukkig laringitis gekry.”

Dit het Anton egter nie teruggesit nie, want van hier af het hy benewens sy lewe as musikus, ook vertak na die wêreld van groot glansgeleenthede en die organisering daarvan.

“Ek moes met groot name en groot institute werk, maar gelukkig het ek ondervinding met die organisasie van sulke tipe projekte.

“Op geestelike vlak sien ek ‘n Hoër Hand in alles, want was dit nie vir COVID-19 en die streng grendeltydperke in 2020 nie, sou ek nie soveel langer in Engeland aangebly het nie.”

Dit is juis in hierdie periode dat die stigter van die British Monarchits Society Anton, vanweë sy uitstekende komposisies, genader het om een van twee kandidate te wees wat elk gevra is om elk hul eie deel van EIIR: The Platinum Record, a Jubilee Anthem, te komponeer.

Anton se segment in dié lied is verlede maand in Londen opgeneem en sal tydens Koningin Elizabeth II se 96ste verjaarsdag op Donderdag 21 April uitgereik word.

  • Die snit sal op alle digitale aflaai- en stroomplatforms beskikbaar wees. Besoek www.facebook.com/antonvandermere vir meer inligting oor Anton van der Merwe.

*Sy verhoognaam is Anton van der Mere om dit vir die Engelse maklik te maak om sy van uit te spreek.

  • Luister op 25 Februarie om 14:20 op RSG hoe Anton van der Merwe vertel hoe dit gebeur het dat sy musiektalent vir die Koningin Elizabeth II se Jubileum-viering aangewend is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article