Dewald Oelofse (voorsitter van Despatch Sektorpolisiëring) en Beverley Venter (Kelston Motor Group se bemarkingsbestuurder).

Foto: Heilie Combrinck

Hoe meer inwoners en besighede die ore en oë van Despatch Sektorpolisiëring raak, hoe moeiliker sal dit vir kriminele wees om misdaad op dié dorp te pleeg.

“Sektorpolisiëring is ‘n vrywillige diens wat ons aan ons dorp en sy mense lewer. En hoe meer ondersteuning ons kry, hoe harder kan ons misdaad ‘n bloedneus gee,” sê Dewald Oelofse, voorsitter van die Despatch Sektorpolisiëring.

“Almal wil in ‘n veilige en netjiese dorp of woonbuurt bly, maar om dit te bereik moet almal saamwerk vir ‘n veiliger omgewing,

“Alhoewel ons dit sal waardeer as meer mense by sektorpolisiëring aansluit, kan inwoners bloot net ons oë en ore in woonbuurte wees. Wees oplettend en meld verdagtes by ons of die polisie aan. Ons werk baie nou saam met die Despatch polisie.”

Die huidige 20 lede van die Despatch Sektorpolisiëring dien hulle dorp op eie onkoste. Hul ry in hul eie voertuie en gooi hul eie brandstof in.

Meeste lede is in professionele be-roepe en offer kosbare rustyd op om toe te sien dat inwoners en hul besittings veilig is in die nag. Die sektorpolisiëring help ook met veiligheid by plaaslike sportgebeure.

Om te help om brandstofonkostes in die toekoms te dek, maar veral om uitkenbare uniforms vir die sektorpolisiëringlede te kry, word ‘n geldinsameling in die vorm van ‘n Mandjiedans aan die einde van April gehou.

“Baie dankie aan die besighede wat ons finansieël ondersteun soos Pick n Pay Despatch, OK Despatch, The Kitchen, JJB Upholstery, Debonairs Despatch, Hannes Meyer Motors, Offcamber Uitenhage, Despatch Dierekliniek en Direct Action Security.

“Dankie ook aan Kelston Motor Group vir ‘n goeie finansiële bydrae aan die sektorpolisiëring,” sê Oelofse.

Beverley Venter, Kelston Motor Group se Oos-Kaapse bemarkingsbestuurder, sê Mike McNaughton, hul besturende direkteur moet vir dié finansiële hupstoot bedank word.

“Kelston is ‘n trotse Oos-Kaapse maatskappy en ons moedig ons personeel aan om betrokke te raak in plaaslike gemeenskappe.

“Ons is trots op Dewald, ons verkoopsbestuur en een van ons topverkoopsmanne in die land, vir sy toewyding en betrokkenheid in die gemeenskap.

“Daarom is dit die regte ding, die Kelston-manier, om ook Despatch Sektorpolisiëring te ondersteun,” sê Venter.

Oelofse sê met dié tipe ondersteuning uit die gemeenskap sien hy uit na ‘n suksesvolle toekoms vir die Despatch Sektorpolisiëring.

“Ons moet ook vir JB de Kock, Shaun Baumeister van Topflight Security en die ander wat destyds dié sektorpolisiëring begin het dankie sê vir die ontstettende goeie fondasie waarop hulle dit begin het.”

Oelofse sê die Mandjiedans gaan goeie musiek hê, daar gaan ‘n kontantkroeg wees en die braaivleisvure gaan van vroegaand af reeds hoog brand. Braaipakke sal beskikbaar wees en baie gelukkige trekkings. ’n Offcamber-naweek ter waarde van R7 300 sal ook uitgeloot word.

  • Die Mandjiedans is op 29 April om 19:00 by Despatch Rugbyklub. Kaartjies is R100 per paartjie. Vir kaartjies bel Frank Coetzee by 065 9210264.
  • Om deel te word van die Despatch Sektorpoliering e-pos ons by despatchsektor2@gmail.com

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article