Rhyno Olivier na sy beroerte. Hy is blind in sy regteroog en het slegs 20% sig in sy linkeroog en moet dringend ’n retina-oorplanting kry.

Foto: Verskaf

Rhyno Olivier van Kariega, of “Renoster Langafstand” soos hy onder sy mede-klublede van Despatch Atletiekklub bekendstaan, moes nadat hy sy sig weens ‘n beroerte verloor het, sy groot liefde vir maratons vaarwel roep.

Maar dié Ysterman-deelnemer, wat agt Two Oceans-marathons voltooi het, drie keer OP-kleure verwerf het in landloop en atletiek en by Despatch Atletiekklub die Vasbyt-trofeë gewen het, veg vasberade voort om die 20% sig is sy een oog te red en verbeter.

“Hy is blind in sy regteroog en het slegs 20% sig in sy linkeroog. Sy sig verswak by die dag en Rhyno moet dringend ‘n retina-oorplanting kry waarvan die koste vir dié operasie R29 900 beloop. Ons behoort nie aan ‘n mediese fonds nie en moet geld insamel vir die operasie,” sê Ria Olivier, Rhyno se vrou.

‘n Steakbraai word op Vrydag, 8 April, by Innibos Lapa gehou om fondse in te samel vir ‘n operasie om hom die kans te bied om weer te kan sien. Verskeie ander fondsinsamelings gaan ook gehou word om dit vir Rhyno moontlik te maak om die retina-oorplanting te kan kry.

“Rhyno het Covid-positief getoets in Januarie en het op dag 12 ‘n beroerte gekry. Hy was in ‘n rolstoel, maar danksy behandelings deur ‘n spraak-, arbeids- en fisioterapeut ís hy uit die rolstoel.

“Die deel van sy brein wat sig beheer is erg deur die beroerte beskadig. Die spesialis in Port Elizabeth het bevestig dat ‘n retina ingeplant moet word om sy linkeroog se sig te verbeter,” sê Ria.

Die steakbraai ten bate van Rhyno “Renoster” Olivier word more-aand (Vrydag, 8 April) om 18:30 by Innibos Lapa gehou. ‘n Steak-ete is R100 per persoon en boereworsrol-ete vir kinders is R25. Daar sal gelukkige trekkings wees en ook ‘n kontantkroeg.

  • Johan Oosthuizen van Fuel on Wheels het bevestig dat hy op 7 April sowat 700km op sy fiets vanaf Kimberley na Kariega gaan ry. Hy noem dié uitdaging Ride for Rhyno om te help geld insamel vir Rhyno se operasie. Oosthuizen het gesê hy wil môre-middag terug wees vir die steakbraai.
  • Vir Steakbraai-besprekings bel Ria Olivier by 082 401 4809 of Lanie Kilian 063 945 5572.

Rhyno “Renoster Langafstand” Olivier van Despatch Atletiekklub was ’n kranige atleet wat aan die Ysterman-driekamp deelgeneem het en het agt Two Oceans-marathons agter sy rug. Maar ‘n beroerte het dié groot sportliefde van hom tot ‘n stilstand gebring.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article