Broers Riaan Senekal en Alton Senekal met die medaljes wat hulle by Wêreld Brandweerspele in Lisabon, Portugal gewen het.

Foto: Heilie Combrinck

Kariega se Senekal-broers het by vanjaar se Wêreld-Brandweerspele in Portugal 11 medaljes gewen en is die wêreldkampioene in vier sportsoorte.

Alton Senekal en Riaan Senekal, beide stasie-offisiere by die KwaNobuhle brandweerstasie, was die enigste twee Oos-Kapenaars in die Suid-Afrikaanse brandweerspan wat van 30 April tot 7 Mei in Lisabon aan die 14de Wêreld-Brandweerspele deelgeneem het. Brandweermanne en -vroue van 41 lande het in sowat 40 sport items kragte teen mekaar gemeet.

“Ons eerste dag was awesome met strawwe kompetisie in hoefystergooi. Boonop was die baan van mat en nie grond soos ons gewoond is nie. Maar, ons het gou aangepas en afgereken met die Franse en die Turke en is as wêreldkampioene in hoefystergooi-dubbelspel gekroon,” sê Riaan.

Daarna het die enkelspel begin en weereens het die Senekal-broers hul onderskeie opponente kis gegooi en moes uiteindelik in die finaal teen mekaar meeding. Riaan het met sy laaste gooi Alton geklop en is hiermee as die wêreldkampioen hoefystergooi-enkelspel gekroon. Alton het ‘n silwer-medalje ontvang.

Alton sê “Dit was lekker om met goeie prestasies te begin. Tussen ons twee het ons op dag een vier medaljes gewen en dan is die druk van ‘n mens se skouers af en geniet jy die res van die items net soveel meer.”

Alton se volledige uitslae was soos volg: hoefystergooi-dubbels (goud), hoefystergooi-enkels (silwer), hamergooi (brons) en toutrek: mansspan (brons). Riaan se uitslae: hoefystergooi-dubbels (goud), hoefystergooi-enkels (goud), skyfwerp (goud), toutrek: gemengde-span (goud), hamergooi (silwer), gewigstoot (silwer), toutrek: mansspan (brons).

Hoewel die Senekals as brandweermanne gewoond is aan hitte, het veral Riaan hom misgis met die Portugese son.

“Dit was verskriklik warm. Die organiseerders het ons gewaarsku oor Portugal se son, maar ek het gedink aag… ons kom uit leeuwêreld, daai sonnetjie is niks. Dit was ‘n groot fout, daai son wat so vlou lyk, het my goed geklits.”

Maar vir dié warm weer het die brandweer-broers ‘n lekker kuur ontdek, naamlik die gewilde Portugese bier Super Bok. “Na ‘n warm dag en taai kompetisie het ons elke aand uitgesien na ‘n lekker Bok en die mooi uitsig vanuit ons hotelkamers oor die stad,” sê Riaan.

Met die onlangse wêreld-brandweerspele bygereken, was dit Alton se vydfe deelname en Riaan se sesde deelname. Hulle is reeds geregistreer vir die volgende brandweerspele in 2024, Aalborg, Denemarke.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article