‘n Private venster is op sekere aspekte van die Sondagsriviervallei se ryk geskiedenis oopgemaak met die opening van die Stef Delport Private Museum op die plaas Eindelik so 2km buite Kirkwood.
Vir baie mense in die streek is die naam Stef Delport al lank reeds sinoniem met kontreistories en geskiedenis en dit is die einste man wat nou die private museum begin het.
Stef, wat jare lank voor sy aftrede onder meer ‘n sitrusboer was, sê sy huis en store was vol van ou historiese stukke wat in bokse en kaste weggepak waar niemand dit kon sien nie. Op ‘n dag het hy besef maar hy het die ideale ruimte vir ‘n museum, naamlik ‘n ou melkstal en ‘n trekkerstoor. “Na my aftrede en plaasverkope het diè geboue geen doel meer gehad nie. Ek het toe besluit om dit as museum in te rig,” sê Stef.
“Ek wil graag wys watter belewenisse ons en ons voorgeslagte alles deurgemaak het in die Vallei gedurende die afgelope 150 jaar tot 1990. Ons kry ook gereeld toeriste, waarvan baie buitelanders in ons selfsorg gastehuisie, wat belangstel in ons geskiedenis. Nou kan hulle dit ook sien.”
Die items vir die museum het hy deur die jare versamel, sê Stef.
‘n Paar is geskenk, die meeste hiervan deur die Kirkwood Kommando. Na die ontbinding van die kommando is dit aan die plaaslike hotel geskenk wat dit eers bewaar het. Toe hulle die vertrek anders wou benut, is dit aan Stef geskenk om te bewaar.
Maar nog voor die opening van die museum het die hedendaagse geskiedenis toegeslaan.
“Diewe het drie keer ingebreek en al my pragtige geel- en rooikoper toestelle gesteel, asook my ou Hi-Fi stelsels waarmee ek ou langspeelplate in die museum wou speel as agtergrondmusiek,” sê Stef.
Elizma Smith, koördineerder van FAK-Kultuurnetwerke in die Wes-, Suid- en Oos-Kaap, het afgelope Sondag die Stef Delport museum amptelik geopen. Tydens die geleenhteid het oud-minister dr. Tertius Delport ‘n paar staaltjies oor sy grootwordjare op Kirkwood met die gaste gedeel .
Stef, wat jare lank bedrywig was in die politiek, het weer sy siening oor die rol van siklusse in die geskiedenis van samelewings, beskawings en regerings, wat onvermydelik ondergaan na hul besmet word met korrupsie en selfverryking, met die 26 teenwoordiges tydens die opening gedeel.
“Ek wil graag aan die moedelose mede-Afikaners verduidelik en wys dat geskiedenis in siklusse beweeg en dat ons Afrikaners dalk weer eendag deel van ’n goter groep sal wees en dat ons erfenis dan ook weer die nodige eerbied sal kry,” sê Stef wat die begeledeide toere deur sy museum sal aanbied.
Hy het deur die jare baie verhale versamel oor gebeure uit die Vallei se geskiedenis, boeke hieroor geskryf en ook artikels vir tydskrifte en koerante gelewer. Hy het ook sy eie biblioteek met duisende boeke in twee vertrekke in sy huis ingerig.
- Vir verdere besonderhede, bel 082 657 1960 of stuur ‘n e-pos na stef@kirkwood.co.za.





