Oud-Springbokrugbyspeler en Doring van Despatch Danie Gerber (links) en Johan Oosthuizen van Fuel on Wheels.

Foto: Verskaf

Die gesweet om ’n totale afstand van sowat 2 500 km op oefenfietse te trap was vir ’n groep fietsryers alles die moeite werd want hulle het sódoende bykans R45 000 ingesamel vir Hailey Lamprecht (11) van Despatch wat vroeër vandeesmaand met Hodgkins Lymphoma gediagnoseer is.

Fietsryers van Fuel on Wheels, onder aan-voering van Johan “Maltrap” Oosthuizen, het die speke vir meer as 50 ure vanaf 16 tot 18 Junie by A Piece of Heaven Coffee Shop & Nursery op Despatch laat sing. Selfs die “Doring van Despatch” oud-Springbokrugbyspeler Danie Gerber het ’n hele paar kilometer op die klok getrap. ’n Persentasie van etes en koeldrank wat mense tydens dié cyclothon by die restaurant geniet het is ook aan Hailey geskenk.

“Ek’t gesê die wiele mag nie ophou draai nie en dit was so! Die jongste deelnemer was vyf jaar oud en die oudste, Solly Gerber, 70 jaar. Wat ‘n ongelooflike experience. Despatch se mense rock as dit by omgee kom!” sê Oosthui-zen.

“Nie een van die drie fietse se wiele was vir ‘n oomblik stil nie. As die een afklim is ‘n ander trapper op. En so het dit dag en nag gegaan.”

Riaana Bouwer wat met die projek gehelp het sê die publiek en veral skoolkinders se ondersteuning was aangrypend. “Maak nie saak hoeveel mense bygedra het en óf hulle bygedra het nie. Elke sent help, maar so ook help mense se omgee en ondersteuning.”

Danie Bothma, eienaar van A Piece of Heaven Coffee Shop & Nursery sê, “Die deure het dag en nag oopgebly soos die mense ingekom het om óf ook fiets te ry óf net om die projek te ondersteun. Dit was ongelooflik, daar was eintlik te min fietse want meer mense wou trap maar kon nie kans kry nie.”

Hailey is die dogter van Herold en Jeanine Lamprecht en is ’n graad 7 leerder van die Laerskool Sonop. Sy is weer tuis nadat sy in Kaapstad met haar chemoterapie-behandeling begin het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article