Die dag toe John Thysse hoor dat besoekers sê sy dorp lyk “vaal en dood” het hy besluit dan moet dié beeld van Despatch verander en “lewe” kry.
“Die gedagte het dadelik by my opgekom om Despatch op te tower deur te begin om onoog-like plekke mooi te maak. Hierdie vloedmuur in die hoofstraat was die begin van die omkeer,” sê Thysse, ‘n inwoner van Despatch en lid van NGK Despatch-Suid wat saam met hom die projek dryf.
Ds. Arrie Preller sowel as kaptein Shaneen Syse van die Despatch polisie, het saam met Thysse koppe bymekaargesit en begin om die nodige toestemming te kry sowel as om plaaslike besighede te betrek. Daar is by die plaaslike kunstenaar Paul Kloppers aangeklop om sy hulp te vra met die verfkuns. Jeugdiges van die dorp het ook ingespring om te help verf aan die muur.
“Ons wil die dorp se kenteken, die skoorsteen, hier op die muur verf. En natuurlik ‘n klip omdat daar dikwels na die dorp as Klipspatch verwys word,” sê Thysse.
Die Algoasaurus, een van die wêreld se bes bewaarde fossiele wat by Despatch in die walle van die Swartkopsrivier ontdek is, sal waarskynlik ook op die muur “lewe” kry.
Plaaslike besighede soos Pick n Pay, Dewtron, Hannes Meyer Motors, Frogfoot en Hardware Hub ondersteun die gemeenskapsprojek ten volle en ook individue soos Adriaan Rossouw met sy tuindienste en Rudi Struwig met bouwerk.
Ross Shelton, eienaar van Pick n Pay Despatch sê, “Dit is ‘n baie goeie inisiatief. Ek wens daar kan meer sulke projekte regoor die dorp aangepak word.”
Volgens Jacoleen van Zyl, ook van Pick n Pay Despatch, “Was dit goed om te sien hoeveel kinders kom help het met die skoonmaak van die terrein en verf van die muur. Ek hoop dit inspireer hulle en dat hulle eienaarskap sal neem om ‘n positiewe verandering op die dorp te bring.”
Hannerie du Toit (18) een van die vrywillige verwers sê “Dit is tyd vir iets nuuts en anders vir die dorp” terwyl Kaylin Victor (19) sê dit is ‘n boodskap van hoop, “Dit is regtig tyd dat jongmense meer betrokke raak by gemeenskapsprojekte, dit is ons toekoms.”
Volgens Thysse is die volgende muur in hulle visier die een by die dorp se sentrale sport- velde.
“Ons het baie skole op die dorp. Dit sal goed wees as elke skool ‘n paar panele verf en sodoende sommer ook hul onderskeie skole bemark.”
Inwoners van die dorp word aangemoedig om in hul omgewings ook met projekte te begin soos byvoorbeeld om skoon te maak en sodoende saam ‘n positiewe verskil aan Despatch se voorkoms te help maak.



