Lionel Petersen (74), eens ’n lid van die ikoniese The Invaders musiekgroep van Kariega wat internasionale gewildheid geniet het, is onlangs na ’n lang siekbed in Johannesburg oorlede.
The Invaders het vroeër jare ’n ongekende en ongeëwenaarde impak op die destydse musiekbedryf, nie net in Suidelike Afrika nie, maar ook in Europa, gehad. Hulle het geskiedenis gemaak toe drie van hul langspeelplate binne een jaar goueplaat-toekennings ontvang het vir uitstekende verkope.
Vir dié baanbrekerswerk in pop-musiek het DAK Netwerk verlede jaar eretoekennings aan Petersen, sowel as aan twee van die oorspronklike lede van The Invaders Errol Gobey en Joe Moses oorhandig. Die ander twee oorspronklike lede, Johnny Burke en Dave Burke, se naasbestaandes het hul toekennings ontvang.
DAK Netwerk het op hul Facebook na die afsterwe van Petersen die volgende geplaas:
“Lionel het opgang gemaak as voorsanger van The Invaders, ‘n beroemde en bekende popgroep van die destydse Uitenhage, Kariega vandag.
DAK Netwerk het verlede jaar op 6 November ‘n eretoekenning aan hom en lede van die Invaders, gemaak waarin ons aan hom erkenning gegee het vir sy bydrae tot populêre musiek in ons gemeenskappe.
Ons dink in hierdie donker tyd aan sy vrou, Valerie, en die res van die gesin.
Rus sag vriend tot ons eendag mekaar weer sien.”
Petersen is op 13 Oktober 1947 gebore en het in Alexandra, Johannesburg grootgeword. Voor die jare wat hy as voorsanger by The Invaders aangesluit en saam met hulle oorsee getoer het, was hy lid van musiekgroepe soos The Thunderballs en The Miracles.
Danie van Wyk, uitvoerende voorsitter van DAK Netwerk, het met die oorhandiging van die eretoekennings gesê, “Mense praat nou nog van The Invaders en die groot bydrae wat hulle gelewer het tot populêre musiek in ons gemeenskappe.
“The Invaders is deel van ons erfenis. Hulle verdien om deur ’n standbeeld op hul tuisdorp (Kariega) gehuldig te word.”
Petersen was met Valerie getroud en hulle het twee seuns, Lyndon en Bevan.
- ’n Huldeblyk met musiek van Lionel Petersen word Saterdagaand op RSG se Kapityt! tussen 21:10 en 22:00 deur Sue Pyler-Slabbert aangebied.





