Vlugbal was vir dekades een van die gewilde sporte op Kariega en het verskeie top spelers opgelewer. ‘n Voormalige provinsiale speler, Eugene van Rooyen, wat sedert 1986 by vlugbal op die dorp betrokke was, wil nou weer nuwe lewe onder die jeug vir dié sport blaas.
Van Rooyen was voorheen ‘n lid van vlugbalklubs soos Saints, Killers, Falcons, Liberations en VWSA. Nou wil hy sy kennis en vaardighede in die sport aanwend om veral laerskoolkinders te leer vlugbal speel by sy Saiyan Warriors vlugbalklub.
“Ons area word geteister deur dwelms. Armoede is groot, leierskap min, en ledigheid is nie goed vir kinders nie. Daarom wil ek die kinders betrokke kry by vlugbal en so probeer help om ‘n verskil in hulle lewens te maak,” sê Eugene.
“Sport en sang, veral talent shows, was vroeër jare groot in ons gemeenskap. Nou nie meer nie. Kyk hoe lyk die civic (Allanridge-gemeenskapsaal) waar ons uitgehang het. Mense besef dit miskien nie, maar sport en sang help baie dissipline by kinders, iets wat amper ook nie meer bestaan nie,” sê Van Rooyen.
Hy bedank Jubilee Park se skoolhoof Pat Korkee vir die beskikbaarstelling van die skool se netbalbane waarop daar vlugbal geoefen word, sowel as plaaslike sakemanne Kurt Nelson en Marlon George vir hulle ondersteuning.
- Vir meer inligting oor Saiyan Warriors se vlugbal bel Eugene van Rooyen by 061 400 7168 or 074 541 9102.





