Deon Greyling van Die Kraaines troeteldier- winkel met ’n bebaarde draak wat hitte nodig het om te oorleef.

Foto: Heilie Combrinck

Visse en reptiele wat as troeteldiere aangebou word, ly ook weens beurtkrag en kragonderbrekings.

Sommige spesies gaan dood as hulle nie die regte temperatuur of voldoende suurstof kry nie.

Daar is egter wel alternatiewe maniere tydens beurtkrag om suurstof in die water te kry en die reptiele by die regte temperatuur te hou, sê Deon Greyling, ‘n vis- en reptielkenner by Die Kraaines troeteldierwinkel op Despatch.

“Reptiele is koudbloedig en in die winter gaan hulle deur hibernasie en hou op om te eet,” sê Deon.

“Mense wat reptiele soos slange, bebaarde drake, akkedisse en geitjies as troeteldiere aanhou, het ‘n groot verantwoordelikheid om die diere in die regte temperatuur aan te hou. As van hulle vir langer as ‘n dag te koud kry, sal hulle doodgaan.

“’n Warmwatersak is altyd ‘n wenner om reptiele hitte te bied wanneer die krag af is. Hoewel dit nie die ideaal is om reptiele tydens hibernasie te hanteer nie, help dit om byvoorbeeld ‘n bebaarde draak tydens ‘n kragonderbreking in jou trui warm te hou.”

Visse daarteenoor kan nie hanteer word nie, maar Deon, wat die afgelope 43 jaar visse as troeteldiere versorg, het ‘n paar nuttige wenke hoe om hulle tydens kragonderbrekings aan die lewe te hou.

“As jy nie alternatiewe elektriese bronne tydens ‘n kragonderbreking het nie, daal die watertemperatuur.

“‘n Daling van meer as vier grade kan sy tol eis onder tropiese visse.”

Beurtkrag belemmer ook die beskikbaarheid van suurstof vir die visse.

“Omdat ‘n akwarium ‘n geslote sisteem is, moet daar voldoende suurstof in verhouding tot die groote van die tenk en die hoeveelheid visse daarin wees. Baie visse gebruik die suurstof vinniger op.

“’n Ander belangrike aspek is dat daar ruiling van suurstof en koolsuurgas op die opper-vlak van die water moet plaasvind. Hoe groter die oopkant van die tenk, hoe effektiewer is die ruiling,” verduidelik Deon.

Hy sê wanneer visse bo by die oppervlak hang, is dit ‘n teken dat hulle nie voldoende suurstof kry nie. Hy gee ‘n paar nuttige wenke oor hoe om suurstof in die water te kry tydens kragonderbrekings:

  • Breek die oppervlak deur die water met ‘n spaan te roer;
  • Sorg dat daar plante in die tenk is, plante verskaf suurstof;
  • Skep aanhoudend water uit die tenk met ‘n beker en gooi dit weer terug;
  • Doen ‘n waterruiling (nie kraanwater) met voorafbehandelde water sonder chemikalieë;
  • Ontkoppel die eksterne filter;
  • Plaas ‘n waaier wat met batterye werk naby die vistenk om die wateroppervlak te breek sodat die koolsuurgas kan ontsnap;
  • Vir tropiese visse kan water gekook word, in ‘n plastiekbottel (wat gesteriliseer is) gegooi word en in of teen die tenk vir hitte geplaas word;
  • Indien jy weet die krag gaan vir lank af wees, verhit die vertrek vooraf.
  • Vir visse in visdamme, soos koivisse wat baie aktief is, is dit nodig om ‘n kragopwekker aan te skaf om die filters aan die gang te hou. Andersins, sê Deon, moet die kleinspan hulle voete was en die water skop om die suurstofvlakke op te jaag.

Vir meer inligting gaan loer in by Die Kraaines en gesels met Deon Greyling of bel hom by 041 933 1987.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article