Despatch is vir seker die enigste klein dorp in Suid-Afrika wat kan spog met ‘n hele rits sportlegendes wat op internasionale vlak bekendheid verwerf het.
Theresa Prince, die eerste Suid-Afrikaanse netbalskeidsregter ooit wat 100 internasionale toetse geblaas het, is deel van dié groep legendes soos Danie Gerber, Rudi Koertzen, Rassie Erasmus, Nantie Hayward, Adri Geldenhuys en Charl Mattheus. Theresa het Maandag tydens die 2023 Wêreldbeker-netbal se Afrika-kwalifiserende ronde, wat die week in die Rembrandtsaal in Pretoria gehou word, haar 100e internasionale wedstryd geblaas toe die spanne van Zimbabwe en Botswana mekaar gepak het.
“Ek kry steeds daardie skoenlapper-gevoel op my maag voor elke wedstryd. Dit is spesiaal en ek voel geseënd om die eerste blaser in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse netbal te wees wat ’n 100 internasionale wedstryde geblaas het. Ek voel veral dankbaar dat my skeidsregterloopbaan beseringvry is, vir seker is dit my goeie gene,” sê Theresa.
Vir dié 100e blaas van ’n internasionale wedstryd het Theresa haar spesiale goue Acme-fluitjie gebruik.
“Ek het gewag om dié fluitjie, wat ’n geskenk is, vir ’n baie spesiale wedstryd te gebruik. Wat my 100e internasionale wedstryd nog meer spesiaal maak, is dat dit in Suid-Afrika gebeur het.”
Intussen het Acme, die wêreld se oudste en bekendste fluitjievervaardigers, uit Engeland laat weet dat hulle ter ere aan Theresa vir haar uitsonderlike prestasie, ook ’n besondere fluitjie aan haar gestuur het.
Alhoewel Theresa ’n nederige-voete-op-die-aarde-mens is, vat sy omtrent nie grond langs ’n netbalbaan nie. Sy het haar eerste wedstryd as ’n gekwalifiseerde internasionale skeidsregter in die Verenigde Koningkryk geblaas toe die Engelse Rose teen die Silwer Varings gespeel het.
“My heel eerste internasionale wedstryd is ’n wedstryd wat ek altyd sal koester. Dit was in die Cook-eilande by die o.21 Wêrelbeker. Ek sê altyd ’n skeidsregter is so goed soos jou laaste wedstryd wat jy geblaas het. Al het jy ’n 100 wedstryde geblaas, bly elke wedstryd ’n uitdaging en moet jy op jou tone bly.”
Theresa se skeidsregterloopbaan het haar na al die uithoeke van die wêreld geneem waar sy verskeie kere by al die top wêreldtoernooie geblaas het. Ook in Suid-Afrika is Theresa ’n bekende skeidsregter by al die top netbaltoernooie.
Enige mentors in haar lewe?
“Beslis Reg Sharp. Hy was die eerste man in die land wat vir ’n SA A-skeidsregtergradering gekwalifiseer het. Hy het nog altyd in my geglo en my aangemoedig wanneer dinge moeilik raak.
“Dan natuurlik my man Deon, wat ongelooflik ondersteunend is. En my twee stunning seuns Taine en Ryan. Sonder dié manne in my lewe sou ek nie my netbalskeidsregterloopbaan voluit kon geniet nie.”
Theresa se raad aan opkomende skeidsregters is: “Oefen hard, glo in jouself. Die belangrikste van alles is om nederig te bly, maar altyd te reik na die sterre!”



