’n Eerste van sy soort markdag op Despatch is begin met die doel om entrepreneurs die geleentheid te gee om hul produkte te bemark en verkoop en sodoende ’n inkomste te verdien.
Staanplek en gazebo’s word gratis aan dié entrepreneurs aangebied en daar is staanplek vir 20 stalletjies.
Amanda Jonker, organiseerder van die markdag sê dit is die inisiatief van die VF Plus Despatch-tak se voorsitter Billy Eyre.
“Beplanning is gedoen om volhoubare projekte te loods. Enige produkte kan uitgestal word, maar daar sal nie duplisering van stalletjies wees nie, omdat ons nie wil hê dat stalletjiehouers moet weggaan met produkte wat nie verkoop is nie,” sê Amanda.
Volgens Amanda sal slegs twee stalletjies eetgoed verkoop en die res is handprodukte, kuns, klere en allerlei ander produkte. Plaaslike kunstenaars sal optree en daar is ook gratis vermaak vir die kleinspan. Dit word die VF Plus Markdag genoem en is by Pagdenstraat 12, om die draai van die Grootboom Slaghuis in Gelukstraat, Retief. Die eerste markdag is op 3 September gehou en die volgende een word op 1 Oktober van 09:00 tot 16:00 gehou.
“Ons wil dit ’n maandelikse instelling maak en nooi die inwoners van Despatch, Uitenhage en Port Elizabeth om die dag saam met ons te kom geniet. Kom gesels en kuier lekker saam, miskien is daar ‘n paar gedagtes wat ons kan wissel om inwoners meer betrokke te kry,” sê Amanda.
- Vir meer inligting oor die markdag of om ’n stalletjie te bespreek WhatsApp Amanda by 084 200 0217.



