Die Loerie Nartjiefees word Saterdag op die kerkgronde van NGK Loerie aangebied met bekende sangers soos Snotkop, Jennifer Zamudio, Manie Jackson, Adam Tas, Barneace Slabbert en Dillon Lerm wat gaan optree.
Twaalfuur die middag is dit tyd vir lekker lag wanneer die Nartjie-eet kompetisie aangebied word. Deelnemers gaan mekaar uitdaag om te kyk wie kan die meeste nartjies in ‘n minuut eet.
Wat ander eetgoed betref wat nie haastig afgesluk hoef te word nie, is daar boereworsrolle uit Tsitsi-kamma, hamburgers, 300 kilogram se slap tjips, kerrie-vetkoeke, gepluisde varkrolletjies met slaai, Catherina se panne-koek, biltong, Hester se geheime resep gemmerbier, en baie vars groente uit die Gamtoosvallei.
Behalwe die kosstalletjies is daar ‘n groot aantal kunsmarkstelletjies.
Interkaap-busdiens sal belangstellendes gedu-rende die fees op ritte in die Gamtoosvallei neem om die natuur te beleef.
Feesgangers word versoek om opvoustoele saam te bring om na die kunstenaars te luister. Geen gazebo’s, piekniekmandjies of alkohol word op die terrein toegelaat nie. Daar is heelwat parkeerplek (ook vir gestremdes) op die feesterrein beskikbaar.
Toegang vir Saterdag om na al die kunstenaars te luister en die atmosfeer te geniet is R150 vir volwassenes en R90 vir skoliere. Die Nartjiefees word Sondagoggend 09:00 met ‘n feesdiens in die NGK Loerie afgesluit.
Vir meer inligting bel 079 063 4488 of besoek die Nartjiefees Facebook of webblad www.nartjiefees.co.za.



