’n Uitsonderlike musiekkonsert en orreluitvoering word op 25 Oktober op Kariega gehou. Hier is orreliste Marius de Bruin en Liesel Murphy, organiseerders van die konsert.

Foto: Heilie Combrinck

Een van Kariega se bes bewaarde (en “weggesteekte”) geheime is dat ou orrelpype uit die bekende Groote Kerk in Kaapstad, jare gelede vir die NG Uitenhage-Oos se kerkorrel geïnstalleer is.

Dié einste orrel se klanke gaan eersdaags weerklink in ‘n uitsonderlike uitvoering met verskeie bekende musikante as gaskunstenaars.

“Min mense weet van die Groote Kerk se orrelpype wat hier op Uitenhage (Kariega) geïnstalleer is. Dit is ongelukkig weggesteek agter ‘n paneel, maar die klank is daar en nou gaan dit opklink om geld te help insamel vir ‘n ander uitsonderlike orrel in Nelson Mandelabaai,” sê Liesel Murphy, orreliste van die NGK Uitenhage-Oos.

Liesel en orrelis Marius de Bruin is die organiseerders van ‘n orrelkonsert om geld in te samel vir herstelwerk aan die St. Paul’s Anglikaanse Kerk se orrel.

“Dit is ‘n baie ou orrel. Die blaasbalke, wat uit skaapleer gemaak is, het waterskade opgedoen,” sê De Bruin, die orrelis van dié St. Paul’s orrel in Gqeberha.

“Die beraamde koste vir die herstelwerk is R21 000. Die Anglikane is mal oor orrelmusiek en koorsang, so ons sal graag die orrel weer in volkome werkende toestand wil kry.”

Die orrelkonsert word op 25 Oktober om 19:00 in NGK Uitenhage-Oos kerk in Freresingel gehou. Musikante wat gaan optree sluit in orrelspel deur Antonio Lawack, Marius de Bruin en Liesel Murphy sowel as klavierduette deur prof. Albert Troskie en dr. Erika Bothma.

Die Andante Kamerkoor onder leiding van Romano Jonathan gaan gehoor word en so ook die NG Uitenhage-Oos kerkkoor onder leiding van Liesel Murphy.

Die bekende operasanger Lucretia Sikwebu gaan optree asook musiekleerlinge van Brandwag Hoërskool onder leiding van Isabella Scheepers.

Kaartjies, R60 vir volwassenes en R30 vir pensioentrekkers en kinders (kinders onder 10 jaar gratis), sal by die deur beskikbaar wees.

  • Vir meer inligting bel Marius by 060847 5772 of Liesel by 073 731 7785.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article