‘n Projek met die versoek om 1 000 teddiebere teen Junie 2023 in te samel om in die Karoo te versprei, het breipenne regoor die land laat klap, ook op Kariega waar daar die afgelope naweek ‘n teddiebeerpartytjie gehou is.
Margie du Toit van Kariega sê sy het dié drukkiebeer-projek op sosiale media gesien en die versoek op haar Faceboek gedeel, waarna die reaksie baie positief was.
“Ek’t gesê ‘come on girls let’s do it’. En toe begin die mense brei. Ons het die naweek 243 teddies gekry. Daar kom nog en ons behoort so 300 teddies in te samel,” sê Margie.
“Ons gaan die helfte aan die projek wat vanuit Durbanville organiseer word gee en die ander helfte vir die polisie op Despatch. Hulle gee dié drukkiebere aan kinders wat trauma ervaar weens gewelddadige en/of seksuele mishandeling.”
Plaaslike breiers is só geïnspireer dat hul tot van die teddiebere verpersoonlik het met ‘n Erns Grundling-beer, wat tydens die teddiepartytjie aan dié avonturier, reisiger en skrywer se ma, Winnie, oorhandig is.





