Die speke van nege fietsryers se fietse gaan môre en Sondag op ‘n 700km sirkelroete sing om geld in te samel vir die verspreiding van Bybels in Oekraïne.
Voor in dié Ride4Bibles “koor” is Kariega se Johan Oosthuizen van Fuel on Wheels wat sy derde jaarlikse 700km aanpak in samewerking met Huis van Heerlikheid om te help om Bybels (Afrikaans, Engels en isi-Xhosa) te verprei. In 2020 is R125 000 op hierdie wyse ingesamel en kon Bybels aan hoësorg-eenhede van hospitale in Kariega en Gqeberha geskenk word. In 2021 is R280 000 ingesamel en kon Bybels vir graad 7 en graad 12 leerders oorhandig word.
“Vanjaar gaan ons bietjie wyer help om Bybels te versprei in die oorloggeteisterde Oekraïne. Ek het nooit besef hoe groot is die vraag na Bybels hier in ons land nie, so ek kan net dink wat ‘n Bybel vir iemand in Oekraïne kan beteken,” sê Oosthuizen.
Pastoor Marius Swanepoel van Huis van Heerlikheid sê “ek dink nie ons weet hoe erg dit moet wees om alles te verloor en konstant in vrees te lewe en heeltyd te moet vlug nie.
“Al hoop wat daardie mense het is op die Here. Daarom wil ons help om Bybels in Oekraïne te versprei.”
Volgens Heinrich Basson van Huis van Heerlikheid, is Rooies Strauss die enigste Suid-Afrikaner wat toestemming van die Oekraïense regering het om sendingwerk daar te doen en daarom sal die geld wat ingesamel word aan hulle oorbetaal word vir die druk van Oekraïense Bybels.
Oosthuizen sê die 700km sirkelroete is ‘n “ongelooflike bewusmakingsroete met baie mense wat stop en ons uitvra en sommer net daar donasies gee.”
Ride4Bibles trek môre 05:00 in Chasestraat by Huis van Heerlikheid weg vir ‘n 311km eerste skof via Jeffreysbaai, Humansdorp, Kareedouw, Uniondale na Willowmore. Saterdag is dit rustyd en Sondag 07:00 trek die fietsryers weg na Aberdeen, Graaff Reinet, Jansenville en dan terug na Kariega. Daar is twee ondersteuningsvoertuie, ‘n Relay ambulans wat die 700km saam met die fietsryers aanpak.
Elektroniese bydraes kan gemaak word na: Nedbank, takkode 127716, rekening 12772 041 87, met die verwysing: Ride4Bibles.
- Vir meer inligting bel Johan by 062 668 5745, Heinrich 083 864 8924 of WhatsApp Huis van Heerlikheid by 067 386 9054.





