Adamina Smit, ‘n Afrikaanse-onderwyser by Hoërskool Despatch, was een van die land se top 15 uitsonderlike onderwysers in Solidariteit se Onderwyser van die Jaar-toekenning vir hoërskole.

Foto: Heilie Combrinck

Despatch het vir die tweede agtereenvolgende jaar een van sy onderwysers onder die land se top 15 nominasies vir die gesogte Solidariteit Onderwyser van die Jaar-toekenning gehad. Nominasies vir dié gesogte toekenning is van skole regoor die land ontvang en Adamina Smit, ‘n Afrikaanse-onderwyser by Hoërskool Despatch, was een van die top 15 uitsonderlike onderwysers in die afdeling vir hoërskool-onderwysers. Hannalie van der Merwe van Hoërskool Strand was die uiteindelike wenner.

Verlede jaar is Kosie Smit, skoolhoof van Hoërskool Despatch, as die nasionale wenner van die Solidariteit Onderwyser van die Jaar in die hoërskole-afdeling aangewys. Adamina is dié 2021 “onnie” van die jaar se vrou.

In ‘n video wat Adamina saamgestel het nadat sy genomineer is, het sy gesê, “My skoolloopbaan het op ‘n ietwat ironiese wyse begin. Ek wou glad nie skool toe gaan nie en moes omgekoop word. Een-en-vyftig jaar later is ek steeds in die hoërskool en dit is vir my ‘n heerlike taak om elke dag met ons kinders en met ons fantastiese taal te werk.

“Die wêreld, die land, die toekoms, is alles in ‘n verskriklike toestand en ons kinders moet binne hierdie gemors oorleef. Ek is beslis in die onderwys om ‘n verskil in kinders se lewens te maak.”

Sy sê haar raad vir beginner-onderwysers is om altyd beheer te hê oor ‘n klas. Nooit jou humeur te verloor nie en om die kinders met respek te behandel.

Adamina hou baie van kuns en om te reis. Sy maak dié passies van haar sorgvuldig deel van haar ander groot liefde, skoolhou, en sê om saam met leerders ‘n taak aan te pak, soos toere, kampe of ‘n matriekafskeid, bly vir haar een van die bevredigendste dinge van onderwys.

“As die leerders aan die einde sê ‘juffrou dit was nou lekker …’ is dit behoorlik die kersie op die koek.

“Om onderwys as ‘n beroep te kies, moet jy ‘n hart hê wat so luidkeels op jou skree dat jy glad nie jou verstand hoor nie. Onderwys bly ‘n roeping, ‘n vervullende roeping.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article