Vier van HTS Daniel Pienaar se boogskuts is in OP-spanne opgeneem wat aan die SA kampioenskappe in die Paarl deelgeneem het.
Volgens Pierre Bakkes van HTS Daniel Pienaar, is die skool trots op die skuts se uitstekende prestasies en is dit heel moontlik die beste uitslae nog wat DP-skuts by ‘n SA-kampioenskappe behaal het.
Die DP-skuts het die eerste dag aan die interprovinsiale kampioenskappe (2D) in hul OP-kleure deelgeneem en die daaropvolgende twee dae aan die 2D en 3D kampioenskappe in hul DP-kleure.
Vir drie van die vier skuts was dit hul eerste deelname aan ‘n Suid-Afrikaanse kampioenskap en al drie dié nuwe OP-skuts het hul persoonlike beste tellings verbeter. Leon Bekker (graad 10) verbeter sy telling tot 278 (2D) en Deacan Green (graad 8) verbeter sy telling tot 284. Ruan Barnard (graad 11) verbeter sy telling tot 282 en hy word slegs die 17de skut wat ‘n 280 kon skiet sedert 2015.
In hul DP-kleure het Deacan Green, Leon Bekker en Ruan Barnard al drie hul persoonlike beste tellings in 3D verbeter.
Op dag drie van die kampioenskappe het Deacan Green sy persoonlike beste telling in 2D ‘n tweede keer verbeter tot 285 en wen uiteindelik ‘n brons-medalje vir graad 8.




