Margaret Botha besig met een van haar groot liefdes in die lewe, om te brei.

Foto: Verskaf Credit: SYSTEM

Vir Margaret Botha sal jy nie sommer sonder ‘n stuk breiwerk in die hand teëkom nie.

Sy woon al die afgelope 46 jaar op Despatch en so, op die maat van die ritmiese geklik van haar breipenne, ontvou haar storie.

Sy maak gebruik van bokhaar en suiwer wol en haar handewerk het net soos haar familie al ver gereis: van die Oos-Kaap tot in die Wes-Kaap; selfs al die pad tot in Engeland, Ciprus, en in dorpies langs die Mediterreense See.

“My liefde vir brei kom van my ouma af. Toe ek vier jaar oud was, het sy my begin leer hoe om te brei, te hekel en naaldwerk te doen. Sy het haar ou Singer naaimasjien van Engeland af gebring en van kleins af het ek haar gehelp om some in te sit.”

Margaret se liefde vir brei is dig met haar liefde vir haar Britse afkoms en die reise van haar voorvaders verweef.

Haar pa is in 1909 in Oldham, Engeland, gebore. Hy het onder meer in katoenmeulens gewerk en later jare in Malta geëindig, waar hy sy trouvrou ontmoet het. Aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog moes hulle uit Malta vlug en het via die Suez-kanaal na Egipte gegaan. Vandaar is hulle na Durban waar hulle in ‘n vlugtelingkamp gewoon het voordat Margaret se pa werk in Oos-Londen gekry het.

Dit was in dié Ooskus-stad se hawe waar van Margaret se kosbaarste herinneringe nog helder in haar gedagtes vasgevang is. Haar pa, wat ook ‘n Anglikaanse predikant was, het gereeld by die Seamen’s Institute gaan werk.

“Hy het gereeld pastorale sorg aan die skeepskapteine van die Union Castle Line skepe verleen wanneer hulle anker in Oos-Londen se hawe gegooi het. As kind het ek saamgegaan en die pragtige skepe met hul geboë spiraaltrappe en trapleunings het my gefassineer.

“En die elegante kelners met hul wit handskoene wat ons tydens etes met skeepskapteine bedien het bly my nog altyd by.

“Ek droom nou nog daarvan om ‘n skeepsvaart om die wêreld te onderneem.”

Margaret het nou wel nog nooit op haar skeepsvaart gegaan nie, maar het al vele vlugte na die anderkant van die wêreld onderneem.

Haar groot verlange na familie en herkoms word ten minste een keer ‘n jaar so gestil wanneer sy Engeland besoek. Dit is daar waar haar twee seuns en vier kleinkinders vir hulle “Granny” van Despatch wag.

“Ek is lief vir die Engelse platteland, die westelike deel van Londen, die mooie Teemsrivier en die groen parke.”

Maar wanneer ‘n mens se wortels op twee plekke geplant is, is daar ‘n dubbele gevoel van behoort. Volgende maand bêre dié vrou van Despatch vir ‘n wyle haar breipenne in die vliegtuig se vragruim voor sy die drade van haar familie weer in Engeland gaan optel.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article