‘n Jong ballerina van Despatch, Jana Kleyn (8), het ‘n goue medalje by die Talent Africa nasionale kampioenskappe in Johannesburg gewen en sodoende gekwalifiseer vir haar Suid-Afrikaanse kleure in uitvoerende kunste sowel as om in New York te gaan dans.
Jana, ‘n graad 2 leerder by Laerskool Sonop, se danstalent bied haar nou die geleentheid om aan die internasionale uitvoerende kunste-kompetisie in New York van 9 tot 18 Julie 2023 deel te neem, asook aan die Stars of the Universe virtuele-opvoering in Desember 2023.
Sy het vroeër vanjaar aan die Talent Africa provinsiale kampioenskappe by die Savoy Theatre in Gqeberha deelgeneem en ‘n goue medalje in die Ballet/Pointe afdeling vir 6-8 jariges gewen. Hiermee het sy vir haar provinsiale kleure in uitvoerende kunste, sowel as om aan die Talent Africa nasionale kampioenskappe deel te neem gekwalifiseer.
By Talent Africa in Johannesburg het sy die “One Rotten Apple” solodans in die Ballet/Pointe afdeling vir 6-8 jariges gedans waarmee sy ‘n goue medalje gewen het.
Jana word afgerig deur Lisle Ferreira by die Hosking Academy of Dance op Despatch.





