Bergsig OP spelers: Die ses Bergsig-spelers in die OP LSEN-krieketspan is (van links) Rudolf Smit (OP LSEN-krieket se president), Byron Smith, Ethan Maree, Luciano Cowie, Shane Vermaak, Brady Stuurman, Rosario Appolis en Leon de Vos (OP LSEN-krieketafrigter).

Foto: Heilie Combrinck

Bergsig Skool op Kariega het vanjaar ‘n uitstekende krieketseisoen agter die rug. Die LSEN-skool se eerste krieketspan het 10 uit 11 van hul ligawedstryde gewen, ses provinsiale spelers vir die OP LSEN-span opgelewer, en twee van hul spelers is in die SA LSEN-span ingesluit.

Afrigters Rudolf Smit en Leon de Vos is die dryf agter dié nuwe ywer onder die skool se krieketspelers. Dit is ook die eerste keer in Bergsig se bestaan dat van hul krieketspelers in die SA LSEN-span ingesluit is.

“Ons het teen groot skole meegeding en ons spelers het Bergsig se naam hoog gehou en baie goeie dissipline gehandhaaf. Ons is baie trots op elkeen van Bergsig se krieketspelers,” het De Vos gesê.

Smit is die OP LSEN-krieket se president, terwyl De Vos vanjaar die OP LSEN-krieketspan afgerig het.

Onder De Vos en Smit se afrigting was die OP LSEN-span vanjaar onoorwonne by die nasionale toernooi. ‘n Totaal van agt provinsiale spanne het deelgeneem en die OP LSEN-span is dus die nasionale LSEN-kampioene.

Bergsig SA spelers: Vier OP LSEN-krieketspelers is vir die SA LSEN-span gekies, waarvan twee van dié spelers van Bergsig Skool op Kariega is. Hier is (van links) Rudolf Smit (OP LSEN-krieket se president), Ethan Maree, Byron Smit en Leon de Vos (OP LSEN-krieketafrigter).

Die ses Bergsig-spelers in die OP LSEN-span is Byron Smit, Ethan Maree, Rosario Appolis, Brady Stuurman, Luciano Cowie en Shane Vermaak. Daarby was Luciano Cowie ook die OP LSEN-krieketkaptein en hy is aangewys as Bergsig se 2022 Krieketspeler van die Jaar.

Vier OP LSEN-krieketspelers is vir die SA LSEN-span gekies, waarvan twee van dié spelers, Ethan Maree en Byron Smith, van Bergsig is.

Bergsig krieketspan: Bergsig se eerste krieketspan het 10 uit 11 van hul ligawedstryde gewen. Hier is (agter van links) Divan Koen, Brandon Julyan, Jason Oerson, Shane Vermaak, Jeraldo Martin, Shiwandré Solomon en Valintino Jacobs. Voor is (van links) Rudolf Smit (afrigter), Ethan Maree, Rowan Rondganger, Algin Jacobs, Byron Smith, Brady Stuurman, Luciano Cowie, Rosario Appolis en Leon de Vos (afrigter).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article