Nico Oelofse by die foto wat hy in 1988 van Danie Gerber en Frans Erasmus geneem het.

Foto: Heilie Combrinck

’n Enigste in sy soort foto van oud-Springbokrugbyspelers Danie Gerber en Frans Erasmus, waarop die handtekeninge van die twee spelers verskyn, hang in ’n huis op Despatch.

Dié foto is in 1988 deur Nico Oelofse geneem.

“Ek het in daardie stadium by Telkom se interne publikasie, PosTel, gewerk. Dit was die beginjare van Telkom en die Poskantoor se samesmelting en ek was die fotograaf en moes nuusgebeure hier in die Oos-Kaap afneem,” sê Oelofse.

“Dit was ook die jaar wat Charl Matteus van Despatch die Comrades gewen het en ek is opdrag gegee om ’n foto van hom te neem. Ek laat weet toe die PosTel-redaktrise dat daar ook twee Springbok-rugbyspelers op Despatch is, Danie Gerber en Frans Erasmus. Sy was in die wolke daaroor en ek moes hulle ook gaan afneem.”

Oelofse, wat self in 1976 vir Despatch Rugby-klub se eerste-span uitgedraf het, het ook Danie Gerber se matriekafskeidfoto’s geneem.

“In daardie jare het ek trou- en matriekaf-skeidfoto’s geneem en ook self die ontwikkeling gedoen. Van Danie en Frans het ek net twee foto’s ontwikkel en hulle gevra om dit te teken.

“Een foto hang nou nog in my kantoor en die ander foto het ek vir Danie gegee. Soos ek kan onthou, het hy die foto vir Flippie Gerber gegee en uiteindelik het dit by Dries Marais, destydse president van die Despatch Rugbyklub beland. Hy het dit in die klubhuis opgehang.”

‘n Brand het later jare dié klubhuis sowel as al die memorabilia verwoes. Frans Erasmus is in 1998 dood in ‘n motorongeluk op die Grahamstad-pad sowat 100m van die plek waar sy vrou Marieta ’n maand tevore ‘n noodlottige motorongeluk gehad het.

“Hierdie foto is vir my kosbaar, want dit is die enigste een in sy soort in die wêreld,” sê Oelofse, wat die afgelope twee dekades in die eiendomsbedryf is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article