Wanneer ’n pa en seun passievol is oor dieselfde sport én boonop daarin presteer, is dit byna ‘n gegewe dat hulle ’n vennootskap sal aangaan om dié sport te bevorder.
In dié geval is dit Stephen en Ethan Bothma van Kariega, beide karate-kampioene in hul onderskeie ouderdomme, wat onlangs die JKSA Kariega Dojo in Van Riebeeckhoogte op die dorp gestig het.
Stephen Bothma het reeds in 1989 vir ‘n swart gordel gekwalifiseer.
“Ek het vir baie jare nadat ek my swart gordel gekry het, nie aktief deelgeneem nie, maar Ethan gehelp met ekstra karate-afrigting. Vroeër vanjaar het JKSA-hoof Sensei Soon Pretorius my gevra om weer betrokke te raak by afrigting en ek en my seun (Ethan) het die Dojo begin,” sê Stephan (66).
Hulle het met ses karateka begin en daar is nou reeds 20 lede.
Ethan (14) het op vyf-jarige ouderdom by L&J Karate Academy met karate begin en is tans ’n junior derde swart gordel karateka. Hy het gevorderde gordels vir sy jong ouderdom en moet nou wag vir sy 16e verjaarsdag voordat hy na Pretoria gaan om vir sy vol Shodan-swart gordel in vol-kontak te kwalifiseer.
Stephen sê omdat Ethan op ’n baie jong ouderdom begin het met karate, het hy die meeste van die tyd teen ouer teenstanders geveg en dit het sy vaardighede nog meer opgeskerp.
“Dit is vir my lekker om saam met my pa af te rig. Ons verstaan mekaar goed. Hy is ‘n streng afrigter, dissipline is vir hom baie belangrik,” sê Ethan, wat tans in graad 8 by Brandwag is.
Vir hom is dit ’n uitdaging om katas te doen, waarvan hy reeds ‘n hele aantal bemeester het.
“Dit is ingewikkeld en van die katas het 67 bewegings. Maar dit is vir my ’n uitdaging waarvan ek hou en ek wil nóg meer katas leer doen.”
Hy doen ook addisionele opleiding vir seniors in Nunchaku (karate-stokke).
Stephen neem in Augustus 2023 ses karateka van Kariega na die JSKA karate-wêreldkampioenskappe in Munich, Duitsland. Dit sal Ethan se derde keer wees wat hy aan ‘n wêreldkampioenskap deelneem.
Ethan het as sewe-jarige aan sy eerste wêreldkampioenskap in Namibië deelgeneem waar hy goue-, silwer- en brons medaljes gewen het. Twee jaar later is hy na Moskou, Rusland, waar hy ‘n bronsmedalje by die wêreldkampioenskappe gewen het.
Stephen sê die ideale ouderdom om met karate te begin is as kinders ses raak.
“Dissipline, harde werk en nederigheid is vir my belangrik wanneer ‘n mens karate doen. Dit is alles aspekte wat ‘n mens se karakter help vorm en oor die algemeen in die lewe belangrik is,” sê Stephen.
Dié Bothma-span word bygestaan deur Mornette, wat verantwoordelik is vir die Dojo se administratiewe take.
- Die ruim, veilige en goed ingerigte JKSA Kariega Dojo is by Somersetstraat 34. Klasse is op Dinsdae en Donderdae vir juniors van 17:15 tot 18:15 en seniors van 18:15 tot 19:00. Vir meer inligting bel Mornette Bothma by 084 556 4029.




