Christie-Leigh Gouws van Despatch is gekroon as RoleModels/Mzantzi Pageants se Mevrou Oos-Kaap 2022-2023.

Foto: Riaan Trosee Photography

Despatch se mense doen dit weer. Dié keer is dit nie ’n sportkampioen nie, maar ’n skoonheid.

Haar naam is Christie-Leigh Gouws (27), sopas gekroon as Mevrou Oos-Kaap 2022-2023.

Sy sê sy dra dié kroon met trots.

“Dit was my droom om dié titel te wen en dié gewigtige kroon is vir my die vergestalting van al die harde werk om dit te verdien. As ek die kroon dra is ek heeltyd bewus van die gewig op my kop, maar ek dra dit met trots.”

Christie-Leigh is ‘n moeder van twee seuns, Gabriel (8) en Mason (5).

“My volgende mikpunt is om die Mevrou Suid-Afrika kroon te dra, en dan Mevrou Wêreld,” sê sy.

Die Mevrou Oos-Kaap kompetisie, wat deur RoleModels/Mzantzi Pageants aangebied word, gaan nie uitsluitlik oor skoonheid nie, maar verg van deelnemers om ook by vele liefdadigheidsprojekte in hul gemeenskap betrokke te wees.

“My hart en passie is by kinders en diere. Dit is waar ek vanjaar ‘n verskil wil help maak.”

Christie-Leigh was nog in haar babadoeke, toe het haar “skoonheid-loopbaan” begin.

“My modelloopbaan het in 1995 kort na my geboorte in Cuyler Hospitaal begin, toe my ma (Heidi Alberts) my ingeskryf het vir die Mooiste Baba-kompetisie, wat ek gewen het.”

Christie-Leigh Gouws.

Sedertdien het Christie-Leigh talle ander titels verwerf. Tussendeur het sy haarself bekwaam om in die gasvryheidsbedryf te werk. Sy het haar modelwerk vaarwel toegeroep totdat haar manlief, Monré, haar aangemoedig het om weer te begin.

“Hy het gesê ek moet weer modelwerk begin doen want ek kyk te veel in die spieël. Ek doen dit want ek hou daarvan om netjies en mooi te lyk, dit is wie ek is.”

As deel van haar gemeenskapsprojekte bied sy in samewerking met Die Agterplaas op Despatch, ‘n Valentynspiekniek op dié dag van die liefde aan. Die piekniek is op 14 Februarie vanaf 18:00 en kaartjies is R180 per paar en sluit in verversings (sout & soet), vrugtesap en koffie. Paartjies is welkom om hulle eie drinkgoed te bring. Kaartjies is verkrygbaar by Ursula van Die Agterplaas (Cloetestraat 6) by 079 770 2477 of Christie Leigh 074 621 2833.

Christie-Leigh bedank graag al die besighede op Kariega en Despatch wat haar geborg het sowel as haar pa Johan Alberts vir sy ondersteuning, ouma Juby Vermaak, Ashlynn McLeod, en man Monré.

  • Christie-Leigh is ook bereid om op te tree by funksies en vir meer inligting kan sy gebel word by 074 621 2833 of WhatsApp 064 129 8938.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article