Logan Ferreira (voor) saam met sy ouers Rikus en Melissa Ferreira en agter is Derine Potgieter en Regardt van der Merwe. Foto:HEILIE COMBRINCK


VYF atlete van Kirkwood gaan die uitdagende 44km Addo Elephant Trail Run aandurf om geld in te samel vir Logan Ferreira, ’n nege-jarige plaasseun met outisme wie ekstra spraak- en arbeidsterapie moet ontvang.

Die atlete word per kilometer deur die Kirkwood 78 Rondetafel geborg. Verskeie plaaslike besighede het ook aan boord gekom, tog is meer ondersteuning nodig om voldoende geld in te samel vir Logan se deurlopende terapie.

Derine Potgieter, ’n ma van Addo (Sunlands) wie se sewejarige seun ook op die outisme-spektrum gediagnoseer is, het met die hardloop-plan vir Logan vorendag gekom.

“Ek het geweldige empatie met ouers wat ook outistiese kinders het. Dit is baie moeilik om ’n kind te hê wat nie vir jou kan sê wat hy of sy wil hê nie. Dit is ook ’n vermoeiende proses om jou kind gediagnoseer te kry en dan volg die talle besoeke aan terapeute en sielkundiges,” sê Derine.

“Ek moes my werk opgee om voltyds na my kind te kyk. Daarom lees ek baie artikels oor outisme en so het ek op Logan se storie op Facebook afgekom. Dit het my hart geraak en ek het dadelik besluit om te help.”

Sy het Melissa, Logan se ma, gebel en haar ondersteuning aangebied. Omdat Derine ‘n hardloper is, het geborgde “hardloopkilometers” by haar opgekom.

“Om te cope, hardloop ek. Nie ver nie, maar vir Logan gaan ek my verste nog hardloop (44km).”

Derine het by die Kirkwood 78 Rondetafel gaan aanklop om haar per kilometer te borg. Die groenlig is gegee en intussen het nog vier atlete en nog borge aangesluit om Logan se projek te ondersteun. Die atlete wat saam met Derine gaan hardloop is Regardt van der Merwe (Kirkwood 78 Rondetafel), Lize Frost, Caréne Norris, en Derick Norris.

Regardt, voorheen bekend vir langafstand-fietsuitdagings vir liefdadigheid, sê hy trek die keer sy hardloopskoene aan want hy hou van uitdagings vir ’n goeie doel.

“Dit gaan ook vir ons oor bewusmaking van outisme. Baie mense weet nie regtig wat outisme is nie en dink ’n kind is net stout,” sê Regardt.

Logan se ouers, Rikus en Melissa Ferreira is die atlete, borge, en ondersteuners baie dankbaar vir wat hulle aanpak om hul seun te help. Veral as dit kom by bewusmaking oor outisme.

“Logan is ongelukkig hoog op die spektrum en kan nie praat nie, maar ons begin vordering in sy klanke hoor. Alhoewel ons die afgelope jaar met hom aanlyn-spraakterapie doen, sal die fondse gebruik word vir ekstra spraak- en arbeidsterapie wat beslis sal help,” sê Melissa.

Die Running For Logan atlete spring op 18 Maart om 07:00 by die Addo Olifantpark se Kabouga-hek in die Zuurberge weg en volg dan ’n 44km roete wat klim tot 1 750-meter bo seespieël deur die berge tot by die Zuurberg Mountain Village.

Mense wat graag die projek wil ondersteun en die atlete help borg kan Regardt bel by 074 370 4204 of Derine 060 977 1325. Betalings kan gedoen word in die volgende rekening: L Ferreira, FNB rekeningnommer 6303 0290 249, takkode 250655, met verwysing RFL (Run For Logan).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article