Die plaaslike musieklegendes Leslie Kohl van Sally’s Dance Band en Joe Moses (regs) van The Invaders.

Foto: Verskaf

Soos die tyd aanstap verloor ons al meer van Kariega se groot musikante. Musikante wat nog altyd ons vermaak het met spesiale musiek in sale, kerke, en op verhoë regoor die land.

Een van dié legendariese plaaslike musikante is Leslie Kohl wie se kitaar nogsteeds gons. Hy het tans twee CDs op die mark, een is gospelmusiek en die ander musiek van sy oorlede broer Stanley Kohl, wat hy verwerk en opgeneem het.

Dit was Stanley wat saam met sy broers Leslie en Cedric die gewilde Sally’s Dance Band begin het. Cedric is ook oorlede.

Leslie het onlangs besoek afgelê by sy ou vriend en nog een van nie net Kariega nie, maar Suid-Afrika se musiek-legendes, Joe Moses, legendariese kitaar-speler van The Invaders. Hulle het saam groot geword in die musiekwêreld en Joe was op ’n stadium ook deel van die Sally’s Dance Band gewees waar die manne ons gemeenskappe met hul briljante kitaarspel vermaak het.

Alhoewel Joe Moses se gesondheid nie goed is nie, speel hy wel nog nou en dan kitaar. Ons op Kariega is so bevoorreg met sulke legendariese musikante in ons midde.

Ek wil persoonlik Leslie Kohl, Joe Moses, Oom Dennis Jood van die Third Degree Band, die Royal Sounds en al die ander plaaslike musikante bedank vir hulle bydraes tot die ontwikkeling van musiek op die dorp.

Omdat meeste van ons sale waar daar voorheen musiekkonserte gehou is, afgebreek is, moet mense nou uit die gemeenskap ry om ’n dansaand by te woon. Meeste van ons musikante is werkloos en musiek is hul enigste bron van inkomste.

Daarom doen ons ’n beroep op plaaslike organisasies wat funkies beplan om die plaaslike musikante te ondersteun. Hulle tree graag by sosiale funksies op.

  • Die Royal Sounds Dance Band maak musiek vir enige sosiale geleentheid en vir besprekings kan Clifton Uithaler by 068 504 4095 of Herbie Jacobs by 081 730 8294 gebel word. Om CDs van die legendes te be-kom bel Leslie Kohl by 078 620 4413 en Joe Moses by 081 362 3839.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article