Despatch-museum is nou leeg gesteel. Alle artefakte wat verband hou met die dorp se geskiedenis, is weg.
In die mees onlangse voorval het ’n polisiebeampte van Despatch Maandagaand op ’n krat met ses van die ou raadstogas, ’n Springbokbaadjie, ’n Spoorwegbaadjie en dokumente in die droeë klipwaterval in die park langs die museum afgekom.
Die Despatch-museum se deure is die afgelope paar jaar vir besoekers gesluit. In 2017 is verskeie onvervangbare en belangrike artefakte, onder meer die burgemeesterketting, ou gewere, en Springbokbaadjies in ’n reeks inbrake gesteel. Klagtes oor die inbrake is by die polisie gelê, maar geen arrestasies is gemaak nie.
In die jare daarna is die gebou sporadies gevandaliseer en is van die oorblywende items gesteel.
“Nou is daar niks, niks, niks oor nie. Die museum is leeg. Al die glasvertoonkaste is leeg. Die ou tikmasjien is stukkend gegooi. Despatch se hele geskiedenis is gesteel. Selfs die replika van die Algoasaurus wat hier op Despatch gevind is, het voete gekry,” sê ’n ontstelde raadslid Frans Swanepoel.
“Dit moes ’n klein outjie gewees het wat ingeklim het. Die spasie deur die vensterraam wat oopgebuig is, is klein.”
Swanepoel doen ’n beroep op die publiek om op die uitkyk te wees vir nog museuminhoud wat dalk op ander plekke op die dorp “weggegooi” is.
“Die publiek moet asseblief my of die polisie laat weet indien iemand van die museuminhoud aan hulle wil verkoop.
“Die laaste paar goed wat hulle nou gevat het, se geldwaarde is niks, maar die sentimentele waarde is van onskatbare waarde,” sê Swanepoel.
Die Despatch-museum was die inisiatief van ’n groep inwoners van die dorp, wat bekendgestaan het as die Vriende van die Despatch-museum.
Dit was ’n vrywillige diens aan die gemeenskap om ’n sentrale plek te kon inrig waar die dorp se geskiedenis tentoongestel kon word.
Soos die Vriende al minder geword het, het die museum se deure al minder oopgemaak en is dit uiteindelik byna 10 jaar gelede gesluit.



