Shaun Basson (32), ’n uitblinker losvoorspeler vir Progress Rugbyklub, is ook ’n lid van die Suid-Afrikaanse potspelspan wat van 27 Mei tot 7 Junie in Agadir, Marokko aan die wêreld agtbalpotspel-kampioenskap gaan deelneem.

Foto: Heilie Combrinck

Ja, talent tel, maar dit is harde oefening en balbeheer wat ‘n sportman van Kariega nou met trots sy Springbokklere in potspel gaan laat dra.

Shaun Basson (32), ’n uitblinker losvoorspeler vir die rugbyklubkampioenspan Progress, is ’n lid van die Suid-Afrikaanse potspelspan wat van 27 Mei tot 7 Junie in Agadir, Marokko aan die wêreld agtbalpotspel-kampioenskap gaan deelneem.

“Of ek rugby, pool, of krieket speel, dit gaan oor balbeheer, posisionering en strategie om ’n paar bewegings vooruit te bedink. Ek sê altyd, hard work beats talent en practice makes perfect.

“Witbalbeheer is baie belangrik. Die witbal moet min op die tafel rondrol en na elke skoot presies reg lê vir die volgende skoot. Hoe jy die spel breek, bepaal die res van jou game. As jy ’n bal inbreek, kan jy die game maak. Indien nie, gee jy jou opponent die geleentheid.”

Shaun was deel van die Oos-Kaap potspelspan (wat bestaan uit spelers van Kariega, Despatch, Jeffreysbaai en Oos-Londen) wat in Saldanhabaai aan die Suid-Afrikaanse potspel-kampioenskappe deelgeneem het.

Daar het hy en Juandré Jonck van Despatch met hul uitstekende spel elkeen ’n plek in die SA-mansspan gekry.

Plaaslik speel Shaun op Despatch saam met Juandré vir die Moroccans en op Kariega speel hy vir die Complicated span.

Shaun Basson sê witbalbeheer is baie belangrik. Die witbal moet min op die tafel rondrol en na elke skoot presies reg lê vir die volgende skoot.

“Om by die wêreldkampioenskappe te kan gaan speel, is vir my ’n droom wat waar geword het.”

Shaun sal R41 000 uit eie sak moet haal om Suid-Afrika by die wêreld-agtbalpotspel-kampioenskap in Marokko te verteenwoordig.

’n Verskeidenheid fondsinamelings begin eersdaags om dié geld in te samel sodat Shaun teen die wêreld se bestes kan gaan meeding.

Shaun sê sy liefde vir potspel kom van kleintyd af. “Ek het grootgeword in Kabah. In my oom, Kosie Basson, se kuierplek Die Boer, het ek pool begin speel. Ek was so klein, ek moes ek op ’n krat staan om by die tafel uit te kom.”

Kosie Basson sê hy kan dit goed onthou. “Hulle was ’n hele groep jong outjies met baie talent. Hulle het natuurlik onder toesig daar kom speel en Ouza Basson het met sy old school styl hulle baie geleer. Die outjies is nou manne met ’n oog vir ’n bal en hulle speel kookwater pool.”

Shaun sê hy spandeer gemiddeld vyf dae per week langs die potspeltafels.

“Baie dankie aan my familie en vriende vir hulle ondersteuning. Dit speel ’n groot rol in my lewe en is wat my dryf na sukses,” sê Shaun.

  • Vir meer inligting om Shaun finansieël te ondersteun om aan die wêreld-agtbalkampioenskap deel te neem, bel hom by 062 032 7212.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article