Boertjie Nell met een van sy duiwe.Foto:HEILIE COMBRINCK


‘n Groot voorreg het Boertjie Nell, ‘n lid van die Despatch Posduifklub, te beurt geval nadat hy as erelid van die Suid-Afrikaanse duiwe-organisasie benoem is.

Sover vasgestel kon word is Boertjie die eerste duiweboer van die Oostelike Provinsie Duiwe Unie wat die eer te beurt geval het. Hy het reeds meriete-kleure van SANPO vir administrasie en vliegprestasies ontvang.

Boertjie het sy eerste duif as ‘n kind op vier-jarige ouderdom gekry. Dit was ‘n duif wat hy in sy pa se hoenderhok gevang het. As skoolseun het hy saam met sy mentors, die broers Piet en Daantjie Swanepoel van Uitenhage duiwe begin vlieg.

Boertjie het in 1976 op Despatch aan wedvlugte begin deelneem en vele prestasies met sy duiwe behaal. Hy was al ‘n paar keer die OPPU-kampioen en hou die afgelope paar jaar die titel as klub- en Uitenhage resiesduif-organisasie kampioen.

Sy duiwe het nasionaal ook baie goed presteer en by die miljoen-dollar-wedvlug, wat een van die grootse wedvlugte was met ongeveer 4 000 inskrywings, het sy duif ‘n algehele vierde plek behaal en een van sy duiwe was ook by die geleentheid die eerste geklokte Suid-Afrikaanse duif.

Boertjie teel jaarliks ongeveer 500 jong duifies en hou dan ‘n produksie-veiling waar daar gewoonlik ongeveer 100 van sy duifies aan duiweboere verkoop word. ‘n Gedeelte van die opbrengs gaan vir klubfondse.

Boertjie beskou die hoogtepunt van sy loopbaan in duiwe-wedvlugte as die dag toe hy in 1978 drie duiwe gelyk gekry het vanaf Venterburg oor ‘n afstand van 640 kilometer. ‘n Ander hoogtepunt was toe sy duif met die nommer 775 met ‘n goue medalje vereer is.

Boertjie het ook sy bydrae op administrasie gebied gebring waar hy onder andere die unie, federasie en klub-voorsitter was. Hy is vanjaar as die ondervoorsitter van die OP Resiesduiwe-unie gekies. Hy het by geleentheid ook op die SANPO raad gedien.

UITGEREIK: DESPATCH POSDUIFKLUB

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article