Die Jazz Town Rugbyklub is in April 2023 in Gerald Smith, Kariega gestig.
Die naam is deur die lede gekies en verwys na die gebied wat die klub se tuiste is. Spelers van ander gebiede is egter ook welkom om by die klub aan te sluit.
“Die hoofdoel van die klub is om rugby te bied aan die jeug in die omgewing wat andersins in die straat sou gespeel het of wat ledig was,” verduidelik Renald Ratangee, stigter en hoofafrigter van die klub.
“Omdat dit ’n nuwe klub is, het ons baie uitdagings. Ons is egter positief dat ons wel uiteindelik suksesvol sal wees. Op die oomblik maak die klub voorsiening vir 9- tot 17-jariges. “Hierdie spelers word ontwikkel om uiteindelik hul plek in senior rugby in te neem en moontlik provinsiale en selfs in die nasionale span ingesluit te word. Senior spelers is ook welkom om by die klub aan te sluit waar ons saam sal kyk hoe om hulle te akkommodeer.”
Die klub oefen tans op die oop veld op die hoek van Van Rooyen- en Abbottstraat, waar die opper-vlak baie uitdagings bied.
Die klub het reeds twee vriendskaplike wedstryde teen Kabah en Mighty Blues gespeel.
“Die klub nooi graag gemeenskapslede om by die klub aan te sluit en te help met die ontwikkeling van ons kinders.”
- Vir meer inligting kontak Renald Ratangee op 061 717 0615.





