Die hoofmeisie van die Hoërskool Brandwag in Kariega, Leanne van Tonder, het deurgedring tot die finale ronde van die ATKV se redenaarskompetisie in die Afrikaans Huistaal-afdeling vir onvoorbereide toesprake.
Leanne het in April aan die eerste ronde uitdunne vir die Oos- en Suid-Kaap, wat by die Hoërskool Framesby in Gqeberha gehou is, deelgeneem en daarna weer haar staal gewys by die semifinale ronde wat ook by Framesby plaasgevind het.
Slegs twee leerlinge van die Oos- en Suid-Kaap-area in die onvoorbereide afdeling vir graad 10 tot 12 het na die finaal deurgedring en Leanne is die enigste Oos-Kapenaar van die twee. Met dié prestasies gaan Leanne in Augustus die ander finaliste in die finaal by die ATKV-Goudini-spa aandurf.
Leanne neem al sedert graad 8 aan redenaars deel en is al voorheen as die skool se beste junior en beste senior redenaar aangewys. Sy het ook al drie keer van te vore na die semifinaal van die ATKV se redenaarskompetisie deurgedring.





