BERGSIG Spesiale Skool se o.19A Netbalspan het onlangs ’n puik prestasie gelewer by die SASN Kampioenskappe vir LSEN skole in Boksburg.
Bergsig het gesorg vir groot opwinding in die kompetisie met ’n reeks indrukwekkende vertonings.
Hier is ’n oorsig van hul prestasies by die toernooi: Bergsig netbalspan het baie goed begin deur ’n oorwinning van 11-7 te behaal teen Die Wilgers.
Hierdie sterk vertoning het dadelik die toon vir die res van die toernooi gestel.
In die tweede wedstryd het Bergsig Mahlasedi met ’n oorweldigende telling van 25-0 geklop.
Die derde wedstryd het Bergsig teen Westview gespeel en ’n 5-1 oorwinning behaal, wat hul onoorwonne rekord voortgesit het. Die laaste drie wedstryde van die dag was egter die drie moeilikstes.
Bergsig het hul volgende wedstryd teen George Hofmyer gespeel wat baie senutergend was en het uiteindelik met
’n telling van 4-3 gewen. Volgende op die program moes Bergsig en Elandspark mekaar die stryd aansê.
Dit was van die eerste afgooi af ’n intense stryd teen Elandspark, waar hulle aanvanklik gelykop met ’n telling van 8-8 was. Helaas het hulle in die ekstra tyd ’n knap geveg gelewer, maar uiteindelik met ’n telling van 10-8 verloor. Bergsig het teen Kempton Panorama hulle veggees gewys en met ’n telling van 9-8 gewen.
In totaal het Bergsig ses wedstryde gespeel en vyf daarvan gewen.
Hierdie indrukwekkende prestasie het hulle as een van die voorste spanne in die toernooi gevestig. Die SASN Kampioenskappe is by die Laerskool Concordia in Boksburg gehou, en Bergsig het deelgeneem aan die LSEN (Learners with Special Education Needs) afdeling.
Dit is ’n groot eer om te kan sê dat Bergsig Spesiale Skool as die beste LSEN-skool in Suid-Afrika gekroon is.
Hierdie prestasie is ’n bewys van die harde werk en toewyding van die Bergsig netbalspan, asook die ondersteuning van hul afrigters en ondersteuners.
Dit is ’n trotse oomblik vir die skool en die hele gemeenskap. Bergsig het gewys dat met vasberadenheid en passie enige doel bereik kan word. Die skool sien uit na nog vele suksesse in die toekoms van hierdie talentvolle span.
– UITGEREIK DEUR
BERGSIG SPESIALE SKOOL




