Die VLV Carpe Diem-tak, gevestig in Kariega, het geskitter tydens die VLV Sirkel Middelland se konferensie op 13 Maart.
Hulle was die algehele wenner van die VLVK Kunste en Handvlyt-kompetisie en het die Maximale trofee vir dié prestasie ontvang.
Maar dit is nie al nie! Hulle het ses trofeë by die konferensie gewen vir, onder andere:
- Eerste plek: Hoogste Totaal Kuns/Handvlyt
- Kuns/Handvlyt: Beeldende kunste
- Blommekuns
- Woordkuns
- Tweede Groot Totaal Leefstyl
- Tweede meeste punte in totaal
“Die VLV Sirkel Middelland is ’n tak van die Vroue-Landbouvereniging van Kaapland (VLVK). Dit is ’n vroue-organisasie vir persoonlike groei wat aan sy lede die geleentheid vir persoonlike vooruitgang en diens aan die gemeenskap bied,” het VLV Middelland in ’n mediaverklaring vroeër verduidelik.
“Die vereniging bied interessante maandelikse programme aan deur middel van praatjies, demonstrasies, debatvoering, uitstallings, opvoerings, besprekings by vergaderings, asook georganiseerde opvoedkundige uitstappies oor Kunste en Handvlyt, Gesondheid, Opvoeding en Kultuur, Leefstyl, Openbare Sake en Landbou en Tuinbou.”
“As jy dink VLV is net vir tannies, dink weer! Hier kuier ons ’n hond uit ’n bos uit. Ons leer nuwe vaardighede, ons huil saam en soms raak ons bietjie mal. Kontak ons vandag nog om uit te vind hoe jy kan deel in die pret,” het Hannelie Low, VLV Middelland Sirkel President gesê.
- Vind enige navrae oor waar om aan te sluit by die VLV, kontak voorsitter Jenny Watkins by 083 442 9662 of Joey Fourie by 082 824 7986. Lees ook meer oor die VLV by www.vlv.co.za of besoek hulle op Facebook.




