Saam met die leerders wat trots hulle nuwe potloodsakkies vashou is, agter van links, Buyiselwa Majavele (Pick n Pay Despatch), Mia Human (adjunkgebiedsjeugleier), Madeléne Sachse (skoolhoof), Beverly Visser (Pick n Pay Despatch) en Albert Hugo (gebiedsjeugleier).

Foto: Anika de Beer

Lede van die Despatch Voortrekker Kommando het hierdie week hulle lesse in diensbaarheid goed bewys met ’n skenking aan die Despatch Voorbereidingskool.

Dit het begin met ’n skenking van 150 potloodsakkies van Pick n Pay.

Van daar moes Albert Hugo, gebiedsjeugleier, en Mia Human, adjunk-gebiedsjeugleier plan maak om die sakkies vol te maak.

“Ons kies elke jaar jeugleiers in die gebied en hulle kies dan ’n projek om aan te pak,” het Pieter Jacobs, gebiedsleier van die Oos-Kaap Voortrekkers, vertel.

“Een van die goed wat ons die kinders probeer leer is diensbaarheid, betrokkenheid by jou gemeenskap.”

Mia en Albert is albei inwoners van Despatch, was leerders van die Laerskool Frans Conradie en Laerskool Sonop onderskeidelik en is tans matriekleerders by die Hoërskool Despatch en tuisskool deur Teneo onderskeidelik.

“Ons het hierdie projek gekies om ’n verskil in ons eie gemeenskap te maak,” het Mia vertel.

“Ons weet daar is mense wat nie kan bekostig om skryfbehoeftes te koop nie. Soms raak dit op of weg en dis duur om te vervang en die kinders sukkel om skooltoe te gaan sonder skryfbehoeftes,” het Albert bygevoeg. “Op hierdie manier kan ons ’n verskil maak, die bietjie ekstra wat ons het vir ander mense gee.”

Hulle het die res van die Kommando betrek om hulle te help met die insamel van skryfbehoeftes om die potloodsakkies vol te kry.

“Dit gaan oor die idee om te leer om diensbaar te wees. Leer om te deel met jou medemens. Ons het gevra en hulle het gegee. Alles kom van die Voortrekker kinders,” het Jacobs verduidelik.

Madeléne Sachse, skoolhoof van die Despatch Voorbereidingskool, was in haar noppies met die oorhandiging.

Dié skool het 2024 op ’n nuwe noot begin met hulle heel eerste graad-4 klasse.

Onder instruksie van die onderwysdepartement pak hulle die uitdaging aan om ’n amptelike primêre skool te word.

“Volgende jaar brei ons uit met graad 5. Teen 2027 gaan ons ’n volle primêre skool wees. Ons het, van graad R tot graad 4, huidiglik 637 leerders,” het Sachse gesê. “Dis ’n reuse skool en ons het ’n baie groot impak op die gemeenskap.”

Hulle leerders kom van oral oor, van die plaaslike Despatch en Khayamnandi tot Motherwell en KwaNobuhle.

“Die kinders geniet hulle gate uit. Dit gaan baie goed hier by ons.

“Met hierdie nuwe potloodsakkies gaan ons leer om verantwoordelik te wees. Ons sal dit mooi oppas,” het Sachse gesê.

voortrekker

Van links is Johan Hugo (Kommando-leier van Despatch Voortrekker Kommando), Mia Human (adjunkgebiedsjeugleier), Madeléne Sachse (skoolhoof), Buyiselwa Majavele (Pick n Pay Despatch), Beverly Visser (Pick n Pay Despatch), Pieter Jacobs (Oos-Kaap Gebiedsleier) en Albert Hugo (gebiedsjeugleier).

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article