MARKO Ferreira, ’n graad 11-leerder en Prefek van HTS Daniel Pienaar in Kariega, het die afgelope atletiekseisoen die vinnigste 100m-tyd vir ’n 17-jarige seun in die geskiedenis van OP-atletiek, Oos-Kaap-atletiek, asook die skool en die Kariega-area se geskiedenis behaal.
Sy elektroniese tyd van 10.35s in die uitdunrondte van die SA-Skolekampioenskappe wat onlangs in die Paarl plaasgevind het, asook sy elektroniese tyd van 10.36s by die Oos-Kaap-kampioenskappe in Komani vroeër vanjaar, is ook onder die beste tye ooit deur ’n 17-jarige seun in Suid-Afrika se geskiedenis.
Marko het gedurende Maart die OP-Junior Atletiekspan verteenwoordig by die SA-Junior kampioenskappe in Pretoria waartydens hy ’n brons medalje in die 100m finaal en ’n silwer medalje in die 200m finaal behaal het.
Marko se 200m-tyd van 21.09s is ook baie naby aan die OP-rekord van 21.02s wat deur Leigh Julius in 2001 opgestel is.
Vroeg in April verteenwoordig hy die Oos-Kaap atletiekspan by die SA-Skolekampioenskappe op Paarl, waar hy as wenner uit die stryd tree in die 100m finaal, en ’n silwer medalje behaal het in die finaal van die 200m.
Ander leerders van HTS Daniel Pienaar wat ook aan die nasionale kampioenskappe deelgeneem het, is Tunesian Basson (hoogspring, verspring en 110m hekkies), Marzanno Seekoei (verspring en driesprong), Tiaan Vosloo (100m Hekkies en 300m hekkies), Keanan Reuben (100m hekkies en 300m hekkies). Tunesian Basson (graad 12) het naelskraaps uitgemis op ’n brons medalje in die hoogspring seuns 19 jaar, toe hy net nie oor ’n hoogte van 1.94m kon kom nie, en in die vierde plek geëindig het. Marzanno Seekoei het sesde geëindig in die driesprong o.20-kategorie by die SA-Junior kampioenskappe in Pretoria.
HTS Daniel Pienaar is baie trots op hierdie merkwaardige prestasies.



