’n VIERJARIGE tel onder die agt mense wat in die kitsvloede dood is wat die Nelson Mandelabaai-metro die afgelope naweek getref het.
Die lewe van Alutha Brown (4), Ndumiso Booysen (41), Tamsanqa Plaatjies (62) en Thandixolo Jonas (46) van KwaNobuhle is deur die vloede geëis.
Ook Abronita Adams (18) van Kamesh en Clive Noah (72) van Kariega, en Sicelo Lusipho (32) van die Walmer-township in Gqeberha is in die skielike oorstromings dood, sê kapt. Sandra Janse van Rensburg, polisiewoordvoerder.
Die lyk van die agtste slagoffer, ’n vrou wat Sondag vermis geraak het, is Dinsdag omstreeks 13:00 in die Brakrivier in Rocklands gevind. Haar identiteit was ten tyde van ter perse gaan nog nie bekend gemaak nie.
Dr. Imtiaz Sooliman, stigter van Gift of the Givers, het gemaan dat mense nie natuurrampe vir eie gewin uitbuit nie.
“Die vloede wat die Oos-Kaap getref het, is werklik massief met groot verwoesting wat gesaai is. Wat my nou bekommer, is dat daar mense is wat sentrums op die been bring, nie om mense te help nie, maar vir eie gewin,” sê Sooliman.
Sooliman, wat Dinsdag Kariega besoek het, het aan Netwerk24 gesê twee mense het reeds probeer om die ramp so te misbruik.
Intussen sê verskeie inwoners van die Lapland- informele nedersetting in Kariega hulle weier om te trek totdat hulle alternatiewe grond aangebied word.
Michael Otto (50), wat sedert 2018 in dié nedersetting woon, sê hy weier om in ’n gemeenskapsaal te bly.
“As ek hier weggaan, kom mense hierheen en steel die bietjie goed wat ek besit. Die munisipaliteit moet ons na ’n veilige plek verskuif of vir my ’n huis gee,” dring hy aan.
Intussen het Oscar Mabuyane, premier, die Volkswagen Groep Afrika (VWGA) se aanleg in Kariega besoek wat ook oorstroom het. Volgens Bernd Schaberg, produksiehoof, was ’n deel van hul produksie-area tot by die middellyf onder water, maar produksie is nie te veel vertraag nie. Dit het wel byna ’n dag geduur om die vloedwater te dreineer.




