Foto ter illustrasie.

Foto: Pixabay

Sowat 20 mense wat ongeveer 800 huise probeer veilig hou – die Mosel Buurtwag het ’n sterk wil, maar hulle kort nog hande.

Lede van dié buurtwag het onlangs ’n stap vir bewusmaking gehou en sowat 40 mense het ’n oggend saam geniet. As jy spyt is omdat jy dit gemis het, moenie bekommer nie – hulle sal weer die pad vat op Saterdag, 24 Augustus.

Die Mosel Buurtwag dek die Mosel, Janssendal en Levyvale-areas op Kariega.

“Ons wil hê meer mense moet betrokke raak by die buurtwag,” het Minette van der Vyver, sekretaresse van die buurtwag, gesê.

“Ons wil net bietjie bewusmaking doen en vir die mense verduidelik wat ons doen,” het haar man, Louis, die buurtwag se voorsitter, bygevoeg. “Ek dink baie mense weet dalk nie eers van ons nie.”

Hulle is vasbeslote om ’n verskil in die gemeenskap te maak. Die ondersteuning wat hulle kry van die plaaslike polisie en die sekuriteitsfirmas is vir hulle ’n groot hulp. So ook die buurtwag se inligtingsgroep op WhatsApp waar gemeenskapslede kan vra om hulp of insidente kan rapporteer.

Verlede week het hulle skouer aan die wiel gesit om twee kabeldiewe vas te trek.

“Vir tien agtereenvolgende dae is daar kabels gesteel in die area,” het Louis vertel. “Een van ons buurtwaglede bly in die area waar die ouens gevang is. Die krag het afgegaan en hy het ’n boodskap op die inligtingsgroep gesien van iemand anders om te sê kabels is weer gesteel. Toe stap daar drie mense verby sy huis. Toe hy uitgaan, hardloop hulle.”

Louis verduidelik dat kabeldiewe gewoonlik die kabels eers net knip, en dan kom hulle later terug om die kabel af te kap en daarmee weg te kom.

“Ons het Dinsdagoggend drie mense by die kabel sien staan. Hulle kom met ’n lang storie vorendag en sê hulle het ook kom kyk wat gebeur het. Ons het met hulle gesels en toe is ons daar weg. Ons was skaars by die huis toe bel iemand om te sê hulle het toe net die kabel afgekap. Hulle het toe ’n lang byl by hulle gehad wat die een in sy broek af versteek het en wat ons nie eers gesien het nie.

“Tydens die lang storie wat hulle vroeër vir ons vertel het, het hulle vir my hulle adres gegee – hulle regte adres. Seker om ons vertroue te wen. Ons het die polisie gebel. Binne 30 minute staan vier polisievoertuie voor die huis en die twee mans is gevang met die gesteelde kabel.”

Stem vir hulle . . .

In nog ’n suksesstorie het die buurtwag ’n tyd gelede gereageer op ’n insident by ’n plaaslike vrou se huis.

“Die buurtwag het toegesak en die probleem opgelos. Sy het toe vir een van ons mense gesê ‘I’m going to nominate you guys for the Heroes Awards,’” het Louis vertel.

En sy het hulle inderdaad genomineer.

Hulle het onlangs ’n oproep ontvang om te sê hulle is onder die Top 20 van die Gemeenskapsdiens-kategorie van die South African Heroes Awards 2024.

Dit is ’n eer vir die buurtwag dat iemand hulle só raakgesien het.

Om te stem vir hulle, SMS SAHA MOSEL na 47439 (SMSe is R3 elk en gratis SMSe is nie geldig nie). Elke SMS is gelykstaande aan een stem.

Die stemproses is oop tot 15 September. Vir meer inligting oor die toekennings, stuur ’n WhatsApp na 079 831 8759.

Raak betrokke!

Om meer uit te vind oor die Mosel Buurtwag of om betrokke te word, kontak Minette by 083 685 5815.

As padpatrollie nie vir jou is nie, is daar ander maniere om die werk vir hulle ligter te maak.

“En moenie dink jy is te jonk of te oud nie. Ons het mense van alle ouderdomme deel van ons groep. Die jongste is 15 en die oudste is 75,” het Louis gesê.

Sluit aan by hulle volgende stap vir bewusmaking op 24 Augustus om 10:00 om meer uit te vind of woon hulle openbare vergadering op 13 Augustus om 18:00 by die Barklystraat-teater in Highstraat, Kariega by.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article