Frederick Alexander Rautenbach en sy vrou, Sya Maria Rautenbach, het die Symara fabriek en besigheid jare gelede tot stand gebring.

Foto: Verskaf Credit: DESIGN2SUBLIMATION

Familiebesighede speel ’n groot rol in die geskiedenis van ’n dorp en sy mense. Die storie van ’n besigheid is essensieel dié van die mense wat dit bedryf, wat die waardes en beginsels neergelê het as grondslag van die onderneming en die volhoubaarheid daarvan verseker het.

Symara op Despatch is so ’n familiebesigheid wat in die 1950’s gestig is.

’n Ryke erfenis, gevul met stories van sy mense wat meer as ’n driekwart eeu van tegnologiese vooruitgang gade geslaan het.

Sedert die begin was dit die Rautenbach familie se missie om een van die mees gerespekteerde skoolbreivervaardigers in die land te word. Deur harde werk, gesonde besigheidsetiek en doelgerigte vasberadenheid het hul deskundiges geword op hierdie gebied.

Deesdae spesialiseer Symara ook in sublimasiedrukwerk in beide die klere- en dekorbedryf, sowel as klerasie vir skole, sportspanne, toernooie, klubs en dies meer. Daar is selfs ’n geskenk- en fabriekswinkel vol plaaslike verkopersitems – ’n spasie waar die gemeenskap se talente ten toon gestel word.

Voor die Rautenbachs hul besigheid na Despatch se industriële area verskuif het in 1970, was hul alreeds ’n huishoudelike naam op die dorp. Gerrit Rautenbach vertel my van sy familie en interessante staaltjies soos ons deur die fabrieksgeboue en kantore stap. Hy en sy broer, Derick Rautenbach, bestuur steeds die besigheid.

“Destyds, voordat my pa – Fred Rautenbach – voltyds in die besigheid betrokke geraak het, was hy die posmeester op Despatch. Oorspronklik het ons ’n wol- en breiwinkel in ons huis in die hoofstraat bedryf en later ’n fabriekie agter die huis. Van die eerste masjiene wat my pa gekoop het was te groot vir die spasie. Sodoende moes hy vir ’n gedeelte van die masjien ’n gat in die muur kap. ’n Armgedeelte van die masjien het daar uitgesteek soos dit aan die buitekant van die muur gaan draai het. Die mense wat verbygestap het was gefassineer deur die ding wat so elke af en toe daar uitgekom het.”

Toe die besigheid na die industriële gebied verskuif het, het alles binne die een gebou gebeur. Later van tyd het hul aangebou, geboue bygekoop en so die bedryf uitgebrei.

Deesdae is dit in die ontwerp en sublimasie werkswinkels waar Gerrit hom mees tuis voel. Hier skep Gerrit en sy span unieke, eiesoortige items.

Gerrit Rautenbach en sy dogter, Andrea, geniet valskermspring. Hul hemde is deur Symara geskep en vervaardig.

“Ek hou daarvan om met my hande te werk en kreatief te wees.”

Deur die jare het die Rautenbachs verseker dat hul besigheid tred gehou het met ’n era van tegnologiese ontwikkeling en die implementering daarvan in die werksplek.

Nou en dan sluip ’n nostalgiese ondertoon in in Gerrit se vertellinge.

“Ek onthou hoe my pa ’n sakrekenaar van oorsee af teruggebring het. Baie keer het my pa nie die sakrekenaar se berekeninge vertrou nie. Eers as hy op papier by dieselfde antwoord uitgekom het as die sakrekenaar, was hy oortuig daarvan dat dit korrek was.”

Hy onthou hoe sy pa ’n handgedrewe afrolmasjien met wasvelle gebruik het. Daarna het die fotokopieerder sy opwagting gemaak. Hul was ook een van die eerste besighede wat ’n faksmasjien gebruik het.

“Ongelukkig is my pa oorlede voordat hy by rekenaars kon uitkom.”

Gerrit se ma, Sya Maria Rautenbach, was geheel en al betrokke by die breiwerk en naaldwerk op die fabrieksvloer.

“My ma was ’n vaardige vrou en ’n kwaai tannie!” lag Gerrit. “Sy het my gestuur om masjiene reg te maak waarvan ek niks geweet het nie. Dan het ek maar voor die masjien gaan sit, oopgemaak en myself geleer.”

Met Gerrit en Derick se agtergrond, kennis en kundigheid kan hul al die masjiene in die fabriek regmaak wanneer nodig en sien hul kans vir elke uitdaging. “Niemand kan ons vertel dit kan nie gedoen word nie. As iets reggemaak moet word, maak ons self reg.”

Dit is hierdie kombinasie van trots, outydse waardes, vakmanskap en vaardigheid wat die besigheid se sukses verseker het.

In vandag se verbruikersgedrewe kitswêreld, glo die besigheid steeds in volhoubaarheid en hergebruik.

“Vir ons is niks belangriker as hoë kwaliteit en dienslewering nie.”

Daar is soveel herinneringe opgesluit in dié geboue. Die produktiewe geroesemoes van fabrieksgeluide – breimasjiene, naaimasjiene en die werknemers wat stik en skep en ontwerp – is deel van die Rautenbachs se leefwêreld. Gerrit en Derick het as klein seuntjies sommer in bokse op die vloer aan die slaap geraak het en het as kleuters gefrustreerd geraak wanneer die wolletjies in hul loopringe se wiele verstrengel geraak het.

Deesdae sluit Gerrit se passies valskermsweef en avontuur motorfietsry in, maar wanneer sy “battery herlaai” is, keer hy maar altyd weer terug na die familiebesigheid.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article