Op die foto is, van links (agter), Theresa Prince, Mara Venter, Adamina Smit, Benita Grobler, Sanél Dreyer, (voor) Mnr. Kosie Smit (Skoolhoof), Steve Hofmeyr, Nico Eyre (Klinicare).

Foto: Verskaf

Bekende sanger, skrywer en akteur, Steve Hofmeyr was die gasspreker by ‘n uitverkoopte ontbyt wat die afgelope Saterdag, 24 Augustus deur die Hoërskool Despatch aangebied is.

Altesame 720 gaste het die geleentheid by die Ernst Swanepoel-saal bygewoon.

Vir sowat 90 minute het Hofmeyr die gaste weggevoer na die sestigerjare met treffers van onder andere Roger Whittaker, Elvis Presley, Neil Diamond en Smokie asook ons eie Al Debbo en Gé Korsten. Daarna het hy sommige van sy eie Afrikaanse treffers ook gesing.

Volgens een van die organiseerders, Theresa Prince, was Hofmeyr, wat op 29 Augustus sy 60ste verjaarsdag gevier het, se aanbieding diep, vol wysheid, nostalgies, snaaks en vlymskerp.

Kosie Smit, skoolhoof, het die 72 gasvroue, Prince en haar mede-organiseerder Benita Grobler, al die borge en die gaste bedank vir hul volgehoue ondersteuning en omgee. Hy het ook hul hoofborg, Nico Eyre van die Klinicare Apteek Groep, bedank vir hul bydrae om die oggend so ‘n reuse-sukses te maak.

Volgens Prince, moet die mense van Despatch hierdie spasie dophou, want volgende jaar gaan hulle selfs groter met hierdie gewilde jaarlikse geleentheid.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article