Vir die Knox-familie van Despatch is vandag ’n besonderse dag.
Hulle het al ’n paar keer opspraak in die UD Express gemaak. Die eerste was in Oktober 2003 nadat die tweeling, Christian en Jonathan, op hulle pa Andrew se verjaarsdag gebore is.
Vandag, op 26 September 2024, vier Christian en Jonathan hulle 21ste verjaarsdae en Andrew sy 50ste.
Andrew is steeds ’n trotse lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, maar die tweeling het ’n ander pad gevolg en studeer nog albei inligtingstegnologie.
Christian en Jonathan was voorskool by Karnallie Speelskool en daarna by die Laerskool Frans Conradie en die Hoërskool Despatch.
Op laerskool het hulle skaak, tennis, krieket en rugby gespeel. Op hoërskool het die tweeling hokkie en krieket gespeel.
Vandag geniet die twee, en Andrew, almal rolbal.
“Christian en Jonathan het vroeër die jaar hul OP-kleure verwerf vir o.25 rolbal en Andrew was verkies vir die Polisie OP-rolbalspan wat onlangs na Parys, Vrystaat gereis het vir nasionale kompetisies,” het ’n trotse Wilma Knox van haar man en kinders vertel.
“Ons kan werklik sê ons is die trotse ouers van Christian en Jonathan, want hulle is twee nederige jongmanne. Hulle kom goed oor die weg met hul vriende en doen baie aktiwiteite saam. Hulle geniet ook ander sportsoorte naamlik gholf en speel ook graag binnehuis sokker.
“Hulle help graag met take in en om die huis.
“Ons geniet dit om gereeld as gesin met vakansie te gaan.
“Ons leuse as gesin is: “A family who prays together stays together” asook “ek en my huis ons sal die Here dien”.
“Ons is ook dankbaar dat die Here dit so moontlik gemaak het dat Andrew sy 50ste verjaarsdag saam die tweeling se 21ste kan vier. Dis nie aldag dat mens hoor van sulke spesiale verjaarsdae wat saam gevier word nie.”
Dié artikel is in die UD Express geplaas in Oktober 2003:
DIE knapies is byna ’n maand oud en reeds het trotse pa Andrew Knox groot planne as hy en sy tweelingseuns op 26 September 2024 hul onderskeie 50ste en 21ste verjaardae gaan vier! Dié tweelingbroers Jonathan Christopher (links) en Christian Andrew (regs) is Andrew en Wilma Knox van Despatch se eerstelinge wat op 36 weke in die lewe gebring is. Klein Christian is die sesde geslag C.A. Knox terwyl sy broer, ma Wilma se pa se voorletters dra. Pa Andrew is ook die derde geslag C.A. Knox in diens van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en hy wonder of sy seun ook “in pa se voetspore gaan volg”.



